Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gemeenskapsmens nou streeklanddros

Gemeenskapsmens nou streeklanddros
 
2008-11-20

Sieb Sieberhagen

VIR baie mense in Wellington, veral vir dié wat somtyds aan die verkeerde kant van die gereg gestaan het, was hooflanddros Patrick Ross se kantoordeur altyd oop.

Maar nou, ná 20 jaar, het hierdie gemeenskapsmens ’n vaste betrekking aanvaar as streeklanddros in die Paarl - en Wellington se verlies is Paarl se wins.

“Ek gaan my mense mis. Ek was altyd ferm, maar sou altyd ook luister na die probleme en raad gee.

“Ek wil graag die uitdaging aan my opvolger rig om die oopdeur-benadering te volg.

“Ek is na plase toe om met werkers te gaan gesels en sal dit altyd beklemtoon dat ’n mens steeds waardes het, al het jy nie baie geld nie.

“Ek weet wat dit is om arm te wees. Ek het saam met my ma agterop ’n druiwe-lor- rie gesit in oestyd. Dit was in dae toe dit moeilik gegaan het, maar dit het my lewe verander.

“Ek sou baie graag met dieselfde resep in die Paarl wou voortgaan, maar uit die aard van die pos wat ek nou by die Paarlse streek- landdroshof beklee, sal dit nie meer moontlik wees nie,” sê hy.

In dié nuutgeskepte pos is sy verantwoordelikheid as streeklanddros om sake in meer afgeleë Bolandse dorpe te hanteer.

“Die doel is om die howe na die mense te neem. Dit is ’n baie groot uitdaging veral omdat ons nou lewenslange tronkstraf kan oplê. Soms was ek moedeloos, maar God weet wat die beste is,” verduidelik hy.

“Sowat vyf jaar gelede het ek veral in seksuele misdryfsake begin waarneem. Dit het die weg gebaan dat ek later vir die pos in die Paarl kon aansoek doen.”

Uit die gesprek is dit duidelik dat Ross sterk staan op die regte van aangeklaagdes en al baie daaroor koppe gestamp het met die polisie.

“En dit gebeur nog steeds dat die polisie op die regte van die publiek inbreuk maak. Ek het my al sterk daaroor uitgespreek, maar ek kan dit nie aanvaar dat mense se regte misken word nie.”

Ondanks die nuwe werkuitdaging en baie tyd op die pad, gaan die sportbloed wat deur sy are pols, steeds toelaat dat hy sy gunsteling-aktiwiteite beoefen.

Amper soos jare terug toe hy Johannesburg toe geryloop het om te gaan werk en deeltyds te begin studeer.

Die Ross Sporttrust, wat hy in September 2004 saam met Conrad Lesch en Ivan de Villiers begin het, is nog een van Ross se drome wat reeds bygedra het om jongmense se drome te verwesenlik.

“Ons het die trust begin om eerstens aan my pa, die atleet Solomon Ross, erkenning te gee, maar ook om aan jongmense met talent die geleentheid te gee om hulle talent te gebruik en te ontwikkel.

Ross word beskou as ’n mentor van baie sportmanne in die Vallei.

“Ons wil graag outjies help wat dit finansieel nie kan bybring nie. Daar is soveel talent hier by ons - ’n mens moet dit ontgin. Ons kan nie toelaat dat misdaad ons mense verongeluk nie.”

Jaarliks word ’n gholfdag gehou om fondse in te samel.

“Ons mikpunt in 2009 is om die skoolgelde van ’n belowende leerling te betaal.

“Dit bly ook steeds die trust se doel om die outjies wat ons help die regte advies te gee sodat hulle op die ou einde die regte besluite neem.”

En wie kom in aanmerking wanneer daar ’n besluit geneem moet word oor wie om te help?

“Ons kyk nie net na sportprestasies nie, maar neem ook aspekte soos kultuur en opvoeding in ag.”

Vandag het Ross, of soos hy bekend staan, Sensei, ook ’n aktiewe karateklub waar 100 karateka dit weekliks uitspook. Hier lewer Ross ook ’n reuse-bydrae deur jongmense by Lelienfontein-plaas (Wellington), die Drakenstein-gevangenis en in die Paarl af te rig.

Hyself is ’n vierde dan en onder sy bekwame afrigting het ’n hele paar karateka al die hoogste sport bereik. Vanjaar lewer hy vier Springbokke op uit die Paarl.

Ross het ook al ingespring om geld vir sy karateka in te samel sodat hulle oorsee kan gaan deelneem.

Maar wat motiveer dié landdros om soveel vir die gemeenskap te doen?

“My ouers was sekerlik die belangrikste motivering vir dít wat ek graag in die gemeenskap wil terugploeg. Wat ek is, is net genade.”

“Hoe verduidelik ’n mens vir jou kind dat hy nie aan ’n nasionale of internasionale kompetisie kan gaan deelneem nie. Dit is baie moeilik, maar met ons poging kan ons dit vir iemand die moeite werd maak.”

“Dit is een van my drome om skoolkinders meer betrokke te kry by opbouende aktiwiteite, soos byvoorbeeld om karate in skole te begin. Ons kan mos nie wag dat die ergste moet gebeur voordat ons iets doen nie,” sê hy.

Ross se gesin is vir hom baie belangrik.

“Dit kom van my kinderdae af. Ek probeer dieselfde waardes as my ouers nastreef. Die omgee vir mekaar is baie belangrik. Jou status in die lewe word bepaal deur wat jy aan ander doen. Ek onthou dat my ma, al het sy nie baie gehad nie, altyd vir ander mense sou help,” sê hy.

Vanjaar is hy 26 jaar met Esther getroud en hy is die trotse pa van twee seuns.

Dale, die oudste, is onlangs getroud en werk as finansiële adviseur in die Paarl terwyl Marcello in 2009 regte aan die Universiteit Wes-Kaap aanpak.

“My boodskap aan die jeug is eerstens om wysheid te verkry, want dit sal julle mense van beter betekenis maak en wees vir ander ’n voorbeeld in alles wat julle doen,” sê hy.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za