Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ou vriende ontmoet weer na 56jaar

Ou vriende ontmoet weer na 56jaar
 
2008-11-27

Johan Nel

DIT was 56 jaar gelede dat die twee boesemvriende mekaar laas gesien het.

Hannes Fourie en die drie witkop-seuntjies van dominee Grobbelaar van Hermanus se paaie het geskei toe hy in 1952 skielik aan ’n hartaanval beswyk het en sy weduwee besluit het om na Stellenbosch te verhuis.

Hannes en die drie Grobbelaar-broers het mekaar nooit weer gesien nie.

“Ek het dikwels gewonder wat veral van Neels, die jongste Grobbelaartjie, geword het. Ons was in dieselfde klas in die laerskool op Hermanus,” sê Hannes, wat reeds feitlik ’n leeftyd lank ’n inwoner van Wellington is.

Hannes het heel toevallig onlangs met Neels se broer Fritz in Somerset-Wes in aanraking gekom. Op sy vraag waar Neels hom deesdae bevind, het Fritz gesê Neels woon al die afgelope agtien jaar op Wellington!

Neels het reeds in 1990 as lektor by die onderwyskollege op Wellington begin klas gee nadat hy lank op Montagu skoolgehou het en daarna lektor by die onderwyskollege op Graaff-Reinet was.

“Sedert ek agtien jaar gelede na Wellington verhuis het, het ek dikwels ’n man in die dorp opgemerk wat vir my vaagweg bekend gelyk het, maar ek kon nie die gesig aan ’n naam gekoppel kry nie,” sê Neels.

Hannes sê weer Neels is vandag, na 56 jaar,’n totaal ander mens – hy lyk hoegenaamd nie soos die witkopseuntjie wat lank gelede sy skoolmaat op Hermanus was nie.

“Dit is wel moontlik dat ons mekaar dikwels oor die afgelope 18 jaar hier in Wellington gesien het, maar ek sou hom beslis nie herken het nie.”

Die herontontdekking grens volgens albei aan ‘n wonderwerk in die kleine.

“In 1952, toe ons uitmekaar is, was daar byvoorbeeld net een groot held in ons lewens: O.K. Geffin, die Springbok met die ongelooflike skopskoen.

Dit is heerlik om nou weer oor hom opgewonde te raak!” sê Neels.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za