Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Eddie Cairncross en die Wellington poskantoor

Eddie Cairncross en die Wellington poskantoor
 
2008-11-27

Christine Siebrits

DIE poskantoor op Wellington het seker soos alle poskantore destyds ’n groot ronde rubberstempel gehad met Wellington dwars in die middel geskrywe en Poskantoor en Post Office in die rondte om die sirkel.

In sy joernaal vertel DC Rossouw dat dié stempel vroeg in die vorige eeu op geheimsinnige wyse uit die poskantoor verdwyn het.

Eddie Cairncross, die destydse posmeester en ’n baie groot vriend van Rossouw se pa, het na hom gekom met ’n stuk rubber en hom versoek om vir hom so ’n stempel daarvan te sny, want dit sou moeilik wees om die stempel te vervang - en die grootbase sou wil weet wat van die oorspronklike stempel geword het.

Enigiemand wat rubber probeer sny het met ’n mes sal weet hoe swaar dit is om dit besonder netjies te doen, en wat nog sê om ’n stempel te maak wat presies soos die oue gelyk het.

“Wel, ek het hom dit sien doen en daardie stempel is van daardie dag af as plaasvervanger gebruik.”

Die Wellington poskantoor het ’n lang en interessante geskiedenis en die Cairncross-familie is sedert 1840 tot 1917 verbind aan die poskantoor.

Die grootouers van digter Jan F Celliers (1865-1940) was die eerstes op Wellington om pos te hanteer. Die pos is deur Jacob Celliers deur die eetkamervenster uitgegee.

Voor die opening van die spoorweg tot by Wellington in 1853, het ’n omnibus getrek deur perde twee maal per week pos vanaf Kaapstad aangery.

Daar was nie ’n volwaardige poskantoor op Wellington nie - slegs die ontvangs en uitgee van posstukke is hanteer.

Jacob Celliers se huis was waar die Eerste Nasionale Bank in Kerkstraat is en nadat hy “afgetree” het, het sy nege kinders almal as “posmeesters” waargeneem.

Die poskantoor het later verskuif na die huis van Dawid Malan op die hoek van Roos- en Kerkstraat. Hy was getroud met ’n dogter van Jacob Celliers.

Later het mej. MC Cairncross ’n kamer gehuur in die huis van Michael Brink (later die perseel van Dick & Allsop in Kerkstraat).

So teen 1881 het die werk te veel geword vir mej. Cairncross en sy is aangesê om haar broer EG Cairncross aan te stel as telegraafboodskapper teen ’n salaris van £18 per jaar (effektief vanaf 22 Julie 1881). Wellington se eerste telegram is op 23 Julie 1881 ontvang.

Eddie Cairncross het later Welington se eerste volwaardige posmeester geword, ’n pos wat hy vir 30 jaar beklee het.

DC Rossouw skryf verder as volg oor Eddie Cairncross: “Hy was jare der jare lank posmeester op Wellington en ’n maerder mens het ek nooit teëgekom nie, lank en skraal en blou van maerte.

“Hy was met ’n niggie van Vader getroud en was hy vir jou ’n liewe mens! Hy het geen vyand ooit gehad nie, stil op sy plek en ’n vriend van almal.

“En kon hy met Vader lekker sit en rook en gesels. Hy het van die vroegste koerante versamel en ek het baie male gewonder wat daarvan geword het.”

Eddie Cairncross was ook ’n groot poetsbakker. Op ’n dag het hy en ’n groep vriende besluit om waatlemoene op ’n sekere boer se plaas te gaan steel.

Maar wat die vriende nie geweet het nie, was dat Eddie met die boer, ’n sekere mnr Rossouw, gereël het dat hy die groep moes betrap en hulle met die duiwel moet dreig. Rossouw was ook ’n man vir poetse en saam het die twee hul planne beraam.

Op die bepaalde aand het die vriende toe per fiets na die waatlemoenland gegaan. Hulle fietse het hulle versteek en oor die draad geklim.

Die boer het hul fietse skelmpies verwyder en die manne toe “op heterdaad betrap”. Hy het hulle plaashuis toe geneem en ‘n lang preek afgesteek.

Hulle ouers was almal baie konserwatiewe kerkmense en het hulle dan nie gedink aan die skandaal wat dit sou veroorsaak as hy hulle aan die polisie moet uitlewer nie?

Om ’n lang storie kort te maak, het Rossouw hulle in ’n vertrek toegesluit vir die nag, Eddie inkluis, anders sou die ander onraad vermoed.

Dit was baie jare later voordat Eddie hulle die waarheid agter die petalje vertel het.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za