Nuwe hoof vir KN
2008-11-27
Devidean Moses
’n WELLINGTONNER, Mary Banda van Newton, is onlangs aangestel as hoof van Klein Nederburg Sekondêr. Sy volg vir Neville Lewis op wat die afgelope jaar afgelos het ná die uittrede van Douglas Abels. Banda, ’n getrou- de ma van twee, was die afgelope twaalf jaar adjunk-prinsi- paal van Atlantis Sekondêr. Sy is gebore en getoë op Wolseley, maar het haar hoërskoolopleiding by Paulus Joubert Sekondêr in die Paarl voltooi en daarna as onderwyser gekwalifiseer aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het 24 jaar onderwyservaring, hoofsaaklik in die onderrig van Afrikaans, waarin sy ’n meestersgraad aan US behaal het. Banda is ’n leerkrag in murg en been wat glo onderwysers kan ’n verskil maak. “Ek was bevoorreg om goeie onderwysers as rolmodelle te hê. Hulle het my laat glo dat ’n onderwyser ’n positiewe verskil in kinders se lewens in besonder, en in die breë gemeenskap kan maak. “Klein Nederburg het ’n trotse tradisie van goeie prestasie op velerlei gebiede. Ek glo dat ’n mens nie torring aan ’n wenresep nie en vertrou dat ons sal voortgaan om op alle terreine (akademie, sport en kultuur) te presteer. “In samewerking met die breër skoolgemeenskap wil ek seker maak dat die positiewe beeld van die skool verder uitgebou word, maar ook vasstel watter areas moontlik versterk kan word.” Verder wil sy ook graag met die ouers saamwerk om hulle verhouding met hul kinders te versterk. “Ouers vergeet so dikwels die belangrike rol wat hulle moet vervul om te verseker dat hul kind die wêreld as ’n gesonde volwassene betree. “Die ouers, opvoeders en leerders kan nie afsonderlik optree nie - hulle het mekaar nodig.” Banda glo in leierskap wat mense bemagtig en glo leierskap moet nie mense blote navolgers maak nie, maar leiers, elkeen op sy gebied. “Ook sou ek wou toesien dat kurrikulumlewering deur onder andere rekenaarondersteunde onderrig versterk word.” So glo sy ook dat die tyd aangebreek het dat onderwysers en leerders aan die breër netwerke, nasionaal, internasionaal blootgestel moet word wat onderrig en leerpraktyke betref. As motivering streef sy daarna om andere te laat groei en om te lei deur ’n voorbeeld te stel en nie net voor te skryf nie. Haar eggenoot, Christopher, is ’n kurrikulumadviseur by die Onderwysdepartement. Hulle het twee dogters en twee kleinkinders. Sy is versot op kerriekos, seekosgeregte en eksotiese tee en spandeer haar vrye tyd graag met tuinwerk, borduurwerk, kleremaak en lees.
More
News
|