Niks te grillerig en glibberig vir Esther
2008-11-27
Lise Beyers
DAAR is niks waarvoor Esther van der Westhuizen van Butterfly World skrik nie. En dit maak nie saak hoe glibberig en grillerig die gedierte is nie. Maar wat wel Esther se bloed laat kook, is enige mishandeling van diere of insekte, en selfs die doodtrap van slakke. Verlede week was Butterfly World in Klapmuts, reeds ’n volle 12 jaar oud. Hierdie kleurvolle toevlugsoord vir klein diertjies, is juis op die been gebring om mense in te lig oor grillerige skepseltjies. Esther het ’n B.Sc-graad in Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en het hierna vir nege jaar as dosent gewerk by die Universiteit van die Wes-Kaap. Op ’n dag het haar ma met die idee gekom van Butterfly World, en in daardie stadium sou dit slegs bestaan het uit ’n sprokiestuin met vlinders wat rondvlieg. Esther het saam met haar ma die besigheid begin, en mettertyd was daar talle mense wat by haar begin aanklop het, op soek na raad met allerhande kiewelrige ongediertes. “Ek was glad nie van plan om betrokke te raak by goggas, slange en akkedisse nie. Ek was maar baie skrikkerig vir hulle, maar nadat ek navorsing oor hulle gedoen het, het ek besef dat hulle baie skadeloos is, en beslis banger vir ons reuse, as wat ons vir hulle is. “Hulle het vir my al hoe meer begin fassineer en ek het soveel moontlik oor insekte, spinnekoppe en reptiele begin leer. “Die rede hoekom baie van hierdie diertjies by my beland, is omdat talle mense hulle onverantwoordelik bekom en aanhou, en dan later kan hulle nie meer vir hulle sorg nie.” So het Esther ’n klaskamer ingerig by Butterfly World waar sy daagliks vir kinders kan leer om nie bang te wees vir kriewelrige diertjies nie. “Dikwels is dit juis die ouers van kinders wat vir hulle bang maak vir goggas. Hulle word dan eenvoudig geleer om alle goggas dood te maak, ook slange en enigiets vreemds. “Maar dit maak my hart baie bly wanneer ek die boodskap suksesvol oordra dat hierdie gediertes in vrede gelaat moet word.” Esther vertel ook van die ouvroustorie van die vioolspinnekop wat tans sy rondes doen op die internet. Die e-pos wys ’n foto van hierdie spinnekop, asook afskuwelike foto’s van die skade wat sy byt aan ’n mens doen. “Maar die spinnekop op die foto is ’n Amerikaanse vioolspinnekop wat glad nie in Suid-Afrika voorkom nie. “Ons betwyfel ook of ’n vioolspinnekop se byt wel die skade aan die hand veroorsaak het. “Die plaaslike vioolspinnekop is redelik skaars hier en is baie skaam. Hy sal dus liewer onder ’n rots of stomp wegkruip. “Sulke ouvroustories wat na duisende mense op die internet gestuur word, is baie skadelik vir die voortbestaan van talle spesies.” Esther se bekendheid as ‘gogga-mens’ het nou so uitgebrei, dat sy ’n mede-aanbieder van die plaaslik-vervaardigde natuurleweprogram Groen is. Hierdie KykNet dokumentęre program fokus op die wonders van die natuur in hul natuurlike habitat. Esther het reeds die lengte en breedte van die land vol gereis om programme op te neem oor veral spinnekoppe en skerpioene in sekere gebiede. Sy sal volgende jaar dikwels op Sondagaande om 19:30 op Groen te siene wees.
More
News
|