Werkswinkel gee helpende hand
2008-12-04
Sieb Sieberhagen
DIE gewerskaf by die Care Craft Werkswinkel, ’n beskermde werkswinkel vir persone met epilepsie en ander gestremdhede in Wellington, is aansteeklik. Dié sentrum, wat verantwoordelik is om hul eie produkte te bemark, is ’n miernes van bedrywigheid met ’n gesaag en getimmer vir ’n vale terwyl dierehokke en wynkissies aanmekaar gesit word. Langs die hoofgebou is daar ook ’n groepie besig om haarkrullers te verpak. Die sentrum, onder die beheer van Epilepsie Suid-Afrika, is in 1969 gevestig in die eertydse Wellington slagpale in Versaillesstraat. Michael Sias, assistent-werkswinkelbestuurder, vertel dat houtwerk en houtverwante verpakkingsprodukte die spil is waarom dié sentrum draai. “Ons spesiale diereversorgingsreeks wat honde-, voël- en konynhokke insluit, is reeds baie bekend. “Ons het ’n kontrak met Mica, ’n bekende hardeware -groep, waar die publiek ons produkte kan aankoop.” Die sentrum het tans 20 werkers en 4 personeel en word finansieel ondersteun deur hulle eie bemarking, die Departement Sosiale Ontwikkeling en skenkings van organisasies soos die Gemeenskapskas en Paarl Post Kersfonds. “Aangesien ons met persone wat epilepsie kry, werk, bied ons aan hulle ’n beskermde omgewing. Indien van die werkers aanvalle kry, kan ons dadelik na hulle welstand omsien,” sê Sias. “Al ons werkers hier by die sentrum is van die omgewing. Die naaste sentrum soortgelyk aan ons sentrum is een in Kaapstad. “Ons verskaf indiens-opleiding sodat ons toesig oor die werkers kan hê,” vertel hy. Die werkers word weekliks vergoed.
More
News
|