Dink mooi oor die aanskaf van diere
2008-12-04
Lise Beyers
“MAMMA, ek wil ’n hondjie hê vir Kersfees.” Al te dikwels val ’n ouer vir hierdie woorde van hul smekende kind. En dan is die babahondjie of -katjie net so oulik dat hulle te onweerstaanbaar is om nie huis toe te neem nie. Maar dikwels lei die aanskaf van troeteldiere tot groot hartseer. In die eerste plek bly klein hondjies en katjies nie vir altyd klein nie. Dan ook is daar die verantwoordelikheid van die daaglikse versorging van die diertjie, asook om vir hom die huisreëls te leer. Dus raak talle mense moeg van die troeteldiertjie na ’n paar weke, en dit lei dikwels tot verwaarlosing, mishandeling en selfs dat die dier op straat beland. Die DBV maan dus die publiek om twee keer te dink voordat hulle ’n troeteldier aanskaf. “Natuurlik wil ons huise vir ons diere gee, maar ons wil hulle ook nie in onverantwoordelike hande laat nie. “Die publiek moet onthou dat om ’n dier aan te skaf is ’n jarelange verantwoordelikheid. Afhangend van ’n hond se grootte kan hy vir tien tot 17 jaar leef, en ’n kat, maklik tot 15 en meer. “’n Dier moet soos ’n kind in die huis wees. Hy moet genoegsame kos en skuiling hê, asook oefening. “As jou tuin nie groot genoeg is vir ’n aktiewe dier nie, moet jy bereid wees om daagliks met jou hond te gaan stap. “Met die aanskaf van ’n hond moet jy ook seker maak dat jou erf ten volle omhein is. Dit sal jou hond veilig hou. “En indien jy wel die stap neem om ’n diertjie aan te skaf, maak asseblief seker dat hy of sy reggemaak word. Daar is te veel ongewenste troeteldiere wat huisloos gelaat word.” Die DBV maan ook die publiek om kieskeurig te wees oor waar hulle hul diere aanskaf. “Daar is party telers wat meer soos grootskaalse handelaars optree as enigiets anders. Hulle koop kamstig opregte hondjies aan en verkoop hulle dan teen ’n groot wins. “Of hulle het onetiese teelmetodes sonder die voorgeskrewe permitte. Hierdie telers maak hulself skuldig aan dieremishandeling en die publiek moet nie vir hulle ondersteun nie. “Dus as jy in koerante of op die webwerf vir ’n sekere ras soek, kyk versigtig na die kontakbesonderhede om te sien of dieselfde besonderhede nie by ander advertensies is nie. “Gaan kyk ook self in watter omstandighede die diere grootgemaak is.” Op ’n webwerf word daar hoeka gewaarsku teen ’n vrou van Hertzog Boulevard, Berg-enDal, wat haarself voordoen as ’n hondeteler, maar intussen die honde onder bedenklike omstandighede bekom. Dus is diere koop nie kinderspeletjies nie. * Think carefully before buying a pet.
More
News
|