Hoof groet na 16 jaar by Gim
2008-12-04
Lise Beyers
DIE einde van ’n lang pad het aangebreek vir Hoërskool Gimnasium. Nadat Basjan Reinhardt die septer hier geswaai het vir 16 jaar, sal hy volgende week vir die laaste keer as skoolhoof by die skool se deure uitloop. En hy het geen spyt oor die wonderlike voorreg wat hy gehad het om as skoolhoof van hierdie bekende skool te dien nie. Die gebore Noord-Kapenaar het in 1992 die leisels oorgeneem by Ockert Lategan. Hy het onder andere die enorme taak gehad om die skool deur transformasie en ’n nuwe onderwysstelsel te lei, en dit alleen was geen maklike taak nie. “Dit was ’n lang, interessante pad wat vir my ’n voorreg was. “Gimnasium het ’n trotse geskiedenis en tradisie wat gehandhaaf moet word en almal wat hier betrokke raak, bly heg hieraan. “Ons is ’n trotse kroonjuweel van skole in die land. “Dit sal ’n leuen wees om te sê dat daar langs die pad nie opdraandes was nie, maar die meeste daarvan was tog goeie tye.” Reinhardt is bekommerd oor die uitkomsgebaseerde onderrigstelsel. “Op papier is hierdie wyse van onderrig goed, maar in die praktyk werk dit nie in so ’n diverse land wat vol kompleksiteite is soos ons s’n is nie. “Te veel van ons skole het ook nie die nodige geriewe, hulpbronne en goed-opgeleide onderwysers nie, en talle hiervan raak agter. “Die sterker skole raak al hoe beter, terwyl die swakker skole al hoe meer agter raak. Daar moet van voor af gekyk word na hierdie stelsel, om die situasie te red.” Tydens Reinhardt se jare as hoof was daar talle hoogtepunte. En as hierdie vraag gevra word, sal ’n mens dadelik dink dat dit beslis die skool se puik prestasies op die sportveld heel bo aan die lys sal wees. Alhoewel dit juis ’n uitstaande ondervinding vir hom was, is die geestelike ontwikkeling van die leerders veral vir hom ’n riem onder die hart. “Ons leerders is geestelik baie sterk, en dit baan die weg vir hul toekomstige sukses. “Vanjaar se interskole -oorwinning op ons 150ste feesvieringe sal natuurlik onvergete bly.” Maar Reinhardt sê dat die skool se algehele sukses op die sportveld sowel as akademies te danke is aan die wonderlike personeel waaroor die skool beskik. En dit is nie maklik met ’n leerlingskap van 1170 leerders nie. “Ons is ’n sterk span, en ieder en elkeen het my taak vergemaklik. “’n Laagtepunt vir ons almal is juis as daar baie tyd en aandag op ’n leerder gespandeer word, en dan faal hierdie pogings. “Dan voel ons asof ons misluk het, want ons plig is juis om die weg te baan vir ons kinders se toekomstige sukses.” Gaan Reinhardt nou sy aftrede langs die see geniet en heeldag visvang? “Nee wat. Ek en my vrou Harriet gaan wel verhuis na ons vakansiehuis in Tergniet naby Hartenbos, maar ek gaan steeds bedrywig bly. Ek is van plan om ’n landwye sporttoernooi te organiseer. “Ek wil ook by minderbevoorregte skole betrokke raak om vir hulle te help verbeter.” En so sal Reinhardt op 9 Desember by die deure van Hoërskool Gimnasium uitstap, maar steeds sal die skool se bloed in sy are bly. * Gymnasium High School headmaster, Basjan Reinhardt, retires next week after 16 years holding the reins of the school which celebrated its 150th birthday this year.
More
News
|