Op soek na Bethlehem
2008-12-11
Marguerite Lombard
Die samekoms of konjunksie van die planete Jupiter, Venus en die Maan vroeër die maand het ’n mens weer laat dink aan die teorie dat dié konjunksie moontlik die “Betlehem-ster” was. Willie Koorts, Wellington se eie sterrekundige, het self ’n praatjie of twee gegee oor die onderwerp. “Mens sal nooit weet nie,” sê hy, “want ons het nie baie inligting om mee te werk nie.” Net twee evangelies in die Bybel beskryf die geboorte van Jesus, en net een noem ’n prominente ster. “In daardie tyd kon jy nie astronomie en astrologie skei nie. Vandag beskou sterrekundiges astrologie nie as ’n ware wetenskap nie, maar in die Bybelse tyd sou die wyse manne groot waarde geheg het aan die konstellasies waarin konjunksies plaasgevind het. “Planete het groot simboliese betekenis gehad. Dus sou die konjunksie in 7 vC tussen Jupiter (simbool van ’n nuwe koning of die geboorte van ’n koning) en Saturnus (simbool van ’n ou of sterwende konig) groot betekenis gehad het. Komete het die Romeine weer gesien as draers van slegte tyding.” Volgends geskiedkundiges is Herodus in 4 vC dood, ná Jesus se geboorte. ’n Konjunksies soos ons nou op 1 Desember gehad het, het ook in Junie in die jaar 2 vC plaasgevind, maar toe was Herodus reeds dood. Dan was daar ’n konjunksie van Mars, Jupiter en Saturnus in 6 vC, wat weer ’n goeie kandidaat sou wees. ’n Okkultasie - waar een planeet voor ’n ander skuif - van Jupiter deur die Maan - ook in 2 vC - is nog ’n teorie. Of was die Betlehem-ster miskien ’n supernova - ’n nuwe ster - of wat van ’n komeet? “Die laaste woord is nog lank nie daaroor uitgespreek nie, en ons sal nooit met sekerheid weet nie, want ons het net te min geskiedkundige inligting. Miskien was dit net ’n wonderwerk! “Die vraag wat altyd by my opkom is: hoe was dit moontlik dat Herodus se “wyse manne” nie van die sterreverskynsel geweet het nie? Of hoekom het hulle nie die betekenis daarvan gesien nie? Dit bly ’n interessante vraagstuk.” Willie is ’n elektroniese tegnikus by die Suid-Afri- kaanse sterrewag in Kaapstad en bou aan die elektroniese komponente van die sterrewag se groot kameras. Hulle grootste projek tot dusver was die groot SALT teleskoop op Sutherland. Hy het ’n groot voorliefde vir geskiedenis, en veral die geskiedenis van ’n besonderse ou teleskoop wat meer as ’n eeu gelede op die dorp gebruik is. In 1882 het die destydse Koninklike Sterrekundige aan die Kaap, Sir David Gill, ’n 6” Fritz teleskoop in die sterrewag van die “Huguenot Seminary for Girls” hier op Wellington kom installeer. Die teleskoop is gebruik om twee belangrike astronomiese gebeurlikhede waar te neem: die “Groot Komeet” en dan in Desember, die oorgang van die planeet Venus oor die skyf van die Son. Laasgenoede oorgang is in 2004 waargeneem, en sal weer in 2012 gesien kan word. Die Seminarie se sterrewag is spesiaal ingerig en Abbie Ferguson, die hoof van die seminarie, het op 6 Desember 1882 ’n hele sterrekundige ekspedisie uit Amerika op die dorp ontvang. Jare later is die sterrewag afgebreek en die teleskoop het verdwyn. “Ek sal so graag wil weet waar daardie teleskoop vandag is. “Op ’n stadium het ek ’n leidraad gevolg tot op Worcester, toe nog een so ver as Hermanus, maar niks verder nie. Dit is ’n stuk van Wellington se geskiedenis wat eenvoudig net verdwyn het.” Die ou teleskoop sou beslis ’n waardige Kersgeskenk vir die dorp wees.
More
News
|