Dienssentrum vier uitbreiding
2008-12-11
Johan Nel
’n GROOT aantal van Wellington se senior burgers het verlede Vrydag die jaarlikse afsluitingsfunksie van die plaaslike ACVV se dienssentrum bygewoon, waar die voltooiing van die sentrum se nuwe onthaalarea gevier is.Volgens suster Elsa Groenewald, bestuurder van die sentrum, was die afgelope jaar vir hulle ’n blomjaar. Die gebou wat die sentrum huisves is deur die verhuurder van ’n ruim, nuwe onthaalarea voorsien en die dienssentrum se ledetal het vanjaar tot 260 toegeneem. Die verskillende aktiwiteite wat deur die sentrum aan Wellington se bejaardes aangebied word, kon aansienlik uitgebrei word. Lede kan deesdae aan kuns- en naaldwerkklasse deelneem. Daar is ook ’n Bybelstudiegroep, ’n sanggroep en klasse waar liggaamsoefeninge spesiaal vir bejaardes aangebied word. Lede word ook een keer per week met ’n bussie uitgeneem om inkopies te doen en daar word gereeld uitstappies na opvoerings en ander kulturele byeenkomste in die omgewing onderneem. Die hoogtepunt van die week is die sosiale byeenkomste wat elke Vrydag by die sentrum aangebied word. Daar word tee gedrink en groente en snuisterye word teen spesiale pryse op ’n mark te koop aangebied. Etes word daagliks vir lede voorberei en afgelewer. ’n Diabetes-omgeegroep is pas gestig en lede se bloeddruk word gereeld by die sentrum geneem. Lede word ook op hospitaal- en doktersbesoeke geneem. Die dienste word moontlik gemaak deur die plaaslike gemeenskap wat die sentrum nog altyd besonder ruim ondersteun het.
More
News
|