Nuwe fase vir Wellingtonse kinderhuis
2008-12-11
Johan Nel
DIE bekende kinderhuis op Wellington, Huis Andrew Murray, staan volgens Johann von Wielligh, die nuwe hoof, op die vooraand van ’n belangrike nuwe fase in sy lang ontwikkelingsgeskiedenis van 110 jaar. Volgens Von Wielligh het die kinderhuis se inwoners in die verlede sterk uitgeblink op die gebied van sport en kultuur. Voortaan gaan daar hard gewerk word om hulle ook op akademiese gebied toenemend beter te help presteer. “Danksy ’n gemeenskap met ’n oop hand en ’n breë basis van vrygewige donateurs kon daar van die eerste dag af ’n kinderhuis op Wellington geskep word wat ’n veilige omgewing bied vir elke kind wat hier kom woon. “Baie van die kinders wat hierheen kom, is aanvanklik erg getraumatiseerd. “Ons het nog altyd daarna gestreef om hierdie kinders fisiek, emosioneel en op religieuse gebied behoorlik te versorg en om hulle te help om hul volle potensiaal te bereik. “Aanstaande jaar gaan ons ook daarna streef om sterk op die akademiese vordering van elke kind in die kinderhuis te fokus.” Von Wielligh, wat in 1984 aan die Hugenote Hoërskool op Wellington gematrikuleer het, is op 1 Julie vanjaar aangestel as hoof van die kinderhuis. Hy is ’n opgeleide maatskaplike werker wat landwyd gewerk het en ’n tyd lank bestuurder was van HUGEM, die Hugenote Kollege se departement van gemeenskapsontwikkeling. Hy was ook vantevore ’n beheerraadslid van die kinderhuis. Hy sê dat hy en sy personeel die afgelope maand met ernstige stappe begin het om die kinders te help om meer op hul studies te begin fokus. “Aanstaande jaar gaan ons die klem baie sterk laat val op die akademiese vordering van elke kind in die kinderhuis. Om dit reg te kry, nooi ons die gemeenskap van Wellington en omstreke uit om ons met die kinders se middagstudies te kom help.” Dit is toevallig juis nou die jaar waarin een van die kinderhuis se kinders so goed op akademiese gebied presteer het, dat hy binnekort die heel eerste inwoner van die kinderhuis gaan word wat ná matriek verder gaan studeer om hom as onderwyser te bekwaam. ’n Private donateur het ook pas ’n spesiale studiefonds beskikbaar gestel aan inwoners van die kinderhuis wat ná matriek verder wil studeer. Huis Andrew Murray het in 1898 as ’n “Girls’ Industrial School” tot stand gekom. Hoewel die kinderhuis in die dertigerjare van die vorige eeu ’n staatsondersteunde inrigting geword het, was Wellington se NG Moedergemeente en die NG Kerk se Sinodale Kommissie vir die diens van barmhartigheid deur al die jare vir die bestuur daarvan verantwoordelik. Die kinderhuis het oor die afgelope 110 jaar ontwikkel in ’n moderne kinderhuis waar groepe kinders saam met hul eie koshuismoeders in afsonderlike eenhede tuisgaan. Dit was ook een van die heel eerste kinderhuise in Suid-Afrika waar kinders ten volle geïntegreerd saamwoon en dit beskik tans oor 33 kundige personeellede. Volgens die nuwe hoof droom hy en sy personeel groot oor die toekoms van die kinderhuis. Hulle kan dit doen, want hulle weet die beheerraad word deur ’n vrygewige gemeenskap en ’n steeds groeiende groep toegewyde donateurs ondersteun. In die jongste tyd het studente van die Universiteit van Stellenbosch byvoorbeeld begin om die kinderhuis daadwerklik te ondersteun. Inwoners van Huis Monica by die universiteit en studente van Elsenburg is deesdae betrokke by die kinderhuis se swembadprojek, die planne om ’n volwaardige rekenaarlokaal by die kinderhuis te vestig en om die kinderhuis se eie groentetuine te ontwikkel.
More
News
|