Hoof van laerskool groet
2008-12-11
Devidean Moses
Nà 31 jare in die onderwys lê Mohamed Sonday (56), hoof van Charleston Hill Primêr, vandeesweek die tuig neer. Sonday is ’n gebore Paarliet wat 20 jaar in diens was by Charleston Hill Primêr, waarvan die afgelope 12 jaar as hoof. In 1975, nadat hy as biblioteekassistent gewerk het, het hy besluit om onderwys te gaan studeer aan Bellville Kollege. Hy het later deeltyds verder studeer en in 1993 het hy ’n BA-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf met Sielkunde as hoofvak. Sy eerste onderwyspos was by Paulus Joubert Sekondêr. Hy het ook by Atlantis Sekondêr gewerk asook in Namibië totdat hy in 1988 by Charleston Hill aangesluit het. Sonday was ’n toegewyde sokkerspeler en was stigtervoorsitter van Berkeley Celtic sokkerklub. “Onderwys is ’n interessante beroep wat al hoe meer uitdagend raak. “By Charleston Hill was daar goeie samewerking van die huidige personeel - hulle het verseker dat die skool suksesvol is tot diens van die gemeenskap”, het hy gesê. Noudat dit tyd is dat iemand anders die leiding oorneem, gaan hy hom toespits op die aandelebeurs. Hy is die afgelope vyf jaar deeltyds besig met kurusse op hierdie gebied. Hy lees graag en hou daarvan om na klassieke en jazz musiek te luister. Hy spandeer graag Saterdae in sy tuin en hou ook daarvan om te fliek. “My grootste wens is dat wat ek vermag het, waarde toegevoeg het tot die skool, waarop die volgende leier kan voortbou.”
More
News
|