Bekende sakeman sterf
2008-12-11
DIE bekende eiendomsontwikkelaar van die Paarl, John Smook (52), het die afgelope naweek gesterf ná ’n jaarlange stryd teen kanker. Dié oud-Boishaaier het as tegnikus by sy pa se verkoelingsbesigheid begin werk. Maar hy het die potensiaal in eiendomsontwikkeling raakgesien en sy eerste sakeonderneming was saam met verskeie aandeelhouers by Millennium Eiendomsontwikkeling. Smook was dus verantwoordelik vir onder andere die ontwikkeling van Triangle Besigheidspark in Daljosafat en L’Ideal-woonbuurt agter Hoër Meisieskool Paarl. Later het hy Aslo Eindomme gestig saam met die Louw-familie. Smook se suksesse hier sluit in die Topazwoonstelgebou van 23 verdiepings in die Strand, die Somerset Links kantoorkompleks en nog baie meer. Ten spyte van Smook se suksesse, het hy plat op die aarde gebly en gereeld visgevang en geduik. Hy was ook ’n kranige sportman en was in die vroeë tagtigerjare kaptein van die Paarl rugbyspan. Sy rock-groep, Itch, het jaarliks opgetree om geld in te samel vir liefdadigheid. Hy word oorleef deur sy kunstenaarvrou Cornelia en twee seuns, Rentzke (24) en Henkie (22). ’n Gedenkdiens word vandag om 11:00 gehou by St Peters Kerk op Hermanus.
More
News
|