Bekende chirurg sterf
2009-01-08
’n BEKENDE chirurg van die Paarl, Dr Theo Klompje (79), is die afgelope naweek na ’n kort stryd aan kanker oorlede. Dr Klompje het baanbrekerswerk by die Paarl Hospitaal gedoen en was ook die eerste chirurg wat in hierdie dorp gepraktiseer het. Hy is in 1929 in Amsterdam gebore en het as kleuter met sy ouers na Pretoria verhuis. Hier het hy aan die Universiteit van Pretoria as geneesheer gekwalifiseer waarna hy by die Universiteit van Stellenbosch gespesialiseer het as chirurg. In 1968 het dr Klompje homself in die Paarl gevestig en by die Paarl Hospitaal begin werk. Tot in die vroeë jare tagtig was hy die enigste chirurg hier. Met die ontwikkeling van die Paarl MediClinic het hy saam met sy seun Jan, wat in sy pa se voetspore gevolg het, ’n praktyk geopen. Dr Klompje het op die ouderdom van 65 afgetree en het sy aftrede rustig by die huis geniet en ook baie getoer in die buiteland. Hy word oorleef deur sy vrou Bossie, en kinders Jan, Annelie Beyers en Tersia Smit, asook elf kleinkinders. ’n Gedenkdiens vind vanmiddag om 15:00 plaas by die Hervormde Kerk in Zionstraat.
More
News
|