Bekende geneesheer oorlede
2009-01-22
Lise Beyers
’n BEKENDE mediese spesialis van die Paarl, dr Johan van der Merwe (58), is Saterdagnag stil in sy slaap oorlede aan ’n hartaanval op sy plaas in Agter-Paarl. Dr Van der Merwe het vir 22 jaar as oor-, neus- en keelspesialis in die Paarl gepraktiseer, en was tot onlangs die enigste spesialis van sy soort op die dorp. Dr Van der Merwe is gebore in Somerset-Oos en het aan die Universiteit van Pretoria sy mediese graad verwerf. Hierna het hy by die Universiteit van Stellenbosch gespesialiseer en was akademies verbonde aan Tygerberg Hospitaal, voordat hy sy praktyk in die Paarl geopen het. Hier het hy verlief geraak op die kultuur in en om die dorp, en het betrokke geraak by bewaring van historiese rytuie. Hy het ’n groot rol daarin gespeel om De Poort Erfenissentrum in Suider-Paarl op die been te bring. Perde was ook ’n groot liefde in Van der Merwe se lewe, veral die ryk geskiedenis van die Paarl se perdekarbedryf van toentertyd. Hy was vasbeslote om hierdie tradisie te laat herleef deur middel van De Poort, asook die jaarlikse Perd- en Wynfees wat by Nelson’s Creek gehou word. Van der Merwe het onlangs sy praktyk verkoop aan dr Anton von Lierop, met die oog daarop om die lewe ’n bietjie rustiger te neem. Alhoewel hy steeds sou aanbly by die praktyk, wou hy hom toespits op die Red Star padstal aan die hange van Paarlberg naby Windmeul, wat hy en sy vrou Julie gekoop het. Hier wou hy graag ook perde inspan. Hy word oorleef deur sy vrou Julie en drie kinders, Francois (32), Daniëlle (28) en Charl (26). ’n Viering van sy lewe vind vandag om 19:00 plaas by die NGK Slot van die Paarl. * The well-known ear, nose and throat specialist of Paarl, Dr Johan van der Merwe, has died suddenly of a heart attack.
More
News
|