Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Giniel kraai koning

Giniel kraai koning
 
2009-01-22

Lise Beyers

TERWYL plaaslike renjaer Giniel de Villiers die afgelope drie weke besig was om te ry dat die stof so staan in die Dakar-wedren, het sy ouers, Smittie en Annamarie, tuis gesit en naels kou.

Hulle kon skaars die moed bymekaar skraap om sy vordering op die kassie te volg.

Saterdagaand kon hulle wél vir die eerste keer in weke ontspan, toe Giniel die eerste Suid-Afrikaner geword het om die Dakar te wen.

Die naam Giniel de Villiers pronk in die Paarl, want hierdie oud-Gimmie is tans een van die wêreld se beste veld-renjaers.

Hy het reeds ses Dakar wedrenne, wat as die taaiste wedren van sy soort beskou word, agter die rug.

En vanjaar se Dakar is op ’n geweldige moeilike speelvlak gehou, vir die eerste keer in Suid-Amerika, weens veiligheidsdreigemente in Afrika.

Hierdie Dakar was ’n reuse-uitdaging vir alle deelnemers. Op die ou einde van die dag het slegs 271 voertuie die wedren voltooi, uit 530 wat op 3 Januarie in Buenos Aires weggetrek het.

Die moordende wedren het bestaan uit 9500km se onherbergsame terrein in Argentinië en Chile.

Hy het grootgeword op ’n plaas in die Barrydale omgewing waar sy pa geboer het en het reeds op vier jaar agter die stuur ingeskuif.

Sy pa vertel: “Ek self was nog altyd ’n geesdriftige renjaer en toe Giniel vier was, het ek vir hom ’n karretjie gebou wat gedryf was deur ’n Honda enjintjie.

“Hierin het hy op die plaas baljaar, en toe hy groter was, het ek vir hom ’n pypkar gebou.”

Later is die De Villierse na die Paarl waar Giniel sy skoolloopbaan by Hoërskool Gimnasium voortgesit het.

“Ek het by Killarney tydrenne begin ry en nou en dan het Giniel agter die stuur ingeklim en so ’n paar rondes gery.

“Dit is toe dat ek besef het dat hy ’n talent vir motorsport het, en het hom aangemoedig om verder betrokke te raak.”

En dit was beslis die begin van Giniel se loopbaan waarin hy reeds die kruin bereik het.

Op Killarney het hy Groep-N karre gejaag en is deur Nissan geborg. Hierna het hy gevorderde toer-motors begin ry en was nommer een op die wêreldranglys in dié motorsport.

Hierna het Giniel betrokke geraak by veldrenne en vinnig naam gemaak in die motorbedryf.

Intussen het hy ook sy B.Econ. aan Stellenbosch Universiteit voltooi.

Sy werklike groot deurbraak was toe Nissan Japan vir die Suid-Afrikaanse vervaardigers gevra het om ’n voertuig te bou wat spesifiek ontwerp is vir die Dakar-wedren.

En toe die voertuig voltooi is, het Nissan SA se grootbaas vir die Japannese laat weet dat hy net die man het wat beskore is om daarin die Dakar te ry - sy naam was Giniel de Villiers.

Nissan het later onttrek aan die Dakar, maar Volkswagen was baie vinnig daar om Giniel as hul jaer op te raap.

“Maar dit was nog nooit ’n maklike pad nie,” vertel Smittie.

“Giniel spandeer 240 dae van die jaar in die buiteland en leef basies uit ’n tas.

“Hy neem heel jaar in Europa aan wedrenne deel ter voorbereiding vir die Dakar, en dan toets hy ook voertuie in veral Noord-Afrika.

“En wanneer hy wel ’n bietjie vrye tyd het, spandeer hy dit op ’n bergfiets, met gholf speel of vlieër-branderplankry.”

Hy sal darem nou hopelik kans kry om vir ’n paar maande te rus, veral weens ’n knaende rugbesering wat te wyte is aan die geweldig rowwe terreine waarop hy ry.

En wat is die geheim van sy seun se sukses?

“’n Goeie voertuig, fiksheid en vaardigheid. En dan ook geluk tydens die wedren, en sommer baie daarvan,” sê Smittie.

*Local lad Giniel de Villiers has done Paarl proud, after becoming the first South African to win the Dakar Rally.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za