Die kuierklok lui
2009-01-29
Malané Bosman
WELLINGTON se laerskole is vanjaar 139 jaar se ondervinding armer, met die uittrede van vier vriendinne wat nou meer tyd het vir kuier, maar reeds verlang na kinderkattekwaad. Toe die skoolklokke verlede week Woensdag lui, was dit met ’n tikkie weemoed dat Carol Bailey, Juna van Diemel en susters Mona Moses en Doris Daniels kon stokkiesdraai. Carol het ná 28 jaar in die onderwys by St Albans Primêr afgetree, met Mona ná 35 jaar en Juna ná 38 jaar by Blouvlei Primêr, en Doris, ook ná 38 jaar in die onderwys, by Hillcrest Primêr. “Ons verdien om ’n bietjie agteroor te sit,” meen hulle, op die tweede skooldag elk met ’n koppie koffie in die hand. “Maar ons mis al klaar die sêgoed en die samesyn met die personeel, al is dit wonderlik om op jou eie tyd op te staan, aan te trek, en nie skool toe hoef te gaan nie.” Die vriendinne was jare gelede saam op die skoolbanke by Pauw Gedenk Laerskool op Wellington. Behalwe Juna wat by Noorder-Paarl Hoërskool was, het die ander drie aan Bergrivier Hoërskool hul hoërskoolloopbane voortgesit. Carol het haar onderwysopleiding by Athlone Onderwyskollege in Sanddriftstraat in die Paarl gehad en was haar hele onderwysloopbaan verbonde aan St Albans Primêr. Sy is getroud met Herman Bailey, voormalige burgemeester. “Herman is bly hy hoef nie meer soggens vir my ontbyt te maak en ’n broodjie vir middagete in te sit nie. En nou gaan ek baie reis - maar ek gaan die kinders se stoutighede by die skool baie mis,” sê sy. Carol was tien jaar lank spesiale klas juffrou, en soos die ander, sal sy nooit die bevrediging vergeet nie van ’n kind wat sukkel en dan skielik met ’n groot glimlag aankondig “juffrou, ek kan lees”. Doris het aan die Hewatt Onderwyskollege in Athlone studeer en het eers by Pauw Gedenk ingeval as LO-onderwyseres voordat sy in 1987 na Hillcrest toe is. Haar man, Mervyn, die voormalige adjunkhoof van Bergrivier Hoër, is al agt jaar afgetree en hy is verheug dat sy nou ook by die huis sal wees. “Dalk sal ons nou kan reis,” hoop sy. Doris en Mona se pa, Japie Adams, was skoolhoof van Newton Laerskool en hul broer, ook Japie, is nou skoolhoof van Hillcrest Primêr. Mona was ná haar onderwysopleiding in die Paarl vir ’n kort rukkie by Groenberg Primêr en daarna al die jare by Blouvlei Primêr. Haar man, Len, is die skoolhoof van Weltevrede Senior Sekondêr. Sy weet hy dink sy gaan verveeld wees, maar hy is verkeerd. Sy gaan wel die skoolatmosfeer, soos dié van ’n groot familie, mis, erken sy. Juna het ná haar onderwysstudies in Paarl in 1971 aan Blouvlei Primêr begin klasgee. Die afgelope sewe jaar was sy prinsipale van die skool. Sy meen haar man, Clement, ’n skrynwerker, is baie bly dat sy nou afgetree het. “Hy is verlig dat ek saans by die huis sal wees en dat hy nie by ’n leë huis kom waar net ’n nota vir hom wag wat sê ek is na ’n vergadering toe nie.” Alvier stem saam - vandag se kinders is baie ryper en wyser as vroeër jare. Dis die blootstelling aan tegnologie, televisie en die internet wat hulle intellektueel stimuleer, terwyl kaler kleredrag daartoe bydra dat kinders vroeër ryp is. Die vier juffrouens met die baie jare ondervinding agter die blad, het ’n laaste les vir onderwysers, ouers sowel as die kinders. “Gee vir die kinders onderrig soos jy aan jou eie kind gegee wil hê. Ondersteun jou kind en ondersteun die skool waar jou kind is. En kinders, onthou, uiteindelik is dit jy self wat jou toekoms bepaal.”
More
News
|