W'ton se media-reus
2009-01-29
Marguerite Lombard
DIS maklik om na Wellington se akademiese geboue te kyk, en net aan die historiese waarde en besonderse argitektuur te dink en nie wat daarin gedoen word nie. Bybel-Media se hoofkantoor in die ou Ferguson-gebou is vandag ’n multimiljoenrand-organisasie wat lektuur en mediaprodukte vir die Christen-mark produseer en versprei. Dr Pieter Fourie staan aan die hoof van die maatskappy, en herinner dat Abbie Ferguson, die destydse hoof van die Hugenote Seminarie, hulle werk sou goedkeur. “Hulle sê sy het die gebou met gebed opgerig - al het sy aanvanklik nie die geld daarvoor gehad nie. “Aan die einde van elke maand as dit tyd word om die bouers te betaal, het sy die dorp se mense bymekaargemaak en laat weet dit is weer tyd om te bid vir geld. “Dan het die geld weer ingestroom, die bouers het aanhou werk, en so is Ferguson Hall klaar gebou. “Ek dink ons werk vandag nog min of meer op dieselfde beginsel. Ferguson sou beslis nie beswaar maak nie!” Hy vertel dat Bybel-Media sy oorsprong eintlik in die werk van die Hugenote Kollege gehad het, en dat hulle oorspronklik die studiemateriaal vir die kollege se studente ontwikkel het. Vandag het Bybel-Media meer as 50 mense in diens. Hulle het al ver oor die miljoen publikasies die lig laat sien. Die maatskappy bestaan uit verskeie departemente soos onder andere Bybelkor, Mema-Media, Tydskriftemaatskappy en Goeie Nuus Media. Dit gaan lank nie meer oor net Bybelstudie-gidse nie, maar tydskrifte soos Lig, multimedia DVDs, en selfs preke op MP3-spelers. “Ons is baie opgewonde oor ons opwenbare MP3-speler. Dit word die Plastic Pastor genoem, en daarop laai ons preke in verskeie Afrika-tale sodat mense wat in afgeleë gebiede woon, ook na die sendingboodskap kan luister sonder om afhanklik te wees van elektrisiteit.” Dan is daar ook die korrespondensie-kursusse van die Hugenote- en Nehemia-Bybelinstitute. “Ons Hugenote-Bybelinstituut het ongeveer 250 studente wat die tweejaar-verrykingskursusse volg. Dit is nogal interessant hoeveel mediese dokters ons kursus oor trauma-berading doen. “Die Nehemia-Bybelinstituut se kursusse is meer gemik op pastore wat nie ‘n formele teologiese opleiding gehad het nie. Daar het ons omtrent 600 studente.” Bybelkor se Bybelstudie-gidse is in 16 tale beskikbaar en word byvoorbeeld in Indië deur meer as 700 selgroepe gebruik. “Ons het ook baie Afrikaanssprekende mense in die buiteland wat ons produkte oor die internet bestel. “Suid-Afrikaners woon vandag oor die hele wêreld – van Perth tot in Rusland. “Hulle praat nog Afrikaans in die huis, en as die kinders begin om Sondagskool toe te gaan, soek die ouers iets in Afrikaans. “In die toekoms sal ons daarna moet kyk om vir hulle die opsie te gee om die leesstof direk van die internet af te kan haal.” Bybel-Media het ook benewens hulle eie webblad, nog ‘n webblad, www. christians.co.za, opgestel wat onder andere as ’n forum kan dien vir berading en gesprek. “Ons kry tussen 16 000 en 20 000 unieke besoekers per maand op daardie webblad. Mense wat pastorale hulp nodig het, het ook die opsie om ’n epos direk aan ons hier op Wellington te stuur en dan het ons ’n paneel van opgeleide mense wat dit kan beantwoord.” Vra jy waar lê Bybel-Media se grootste omset, is dr Fourie vinnig om daarop te wys dat dit by hulle nie om profyt gaan nie. Miskien is daar meer waarde daarin dat 900 gevangenes elke jaar hulle Bybelstudie-kurssuse voltooi as die verkoop van al die ander produkte saam. Hoe meet ’n mens sukses?
More
News
|