Bekende sakeman sterf
2009-01-29
Lise Beyers
’n IKOON van Paarl-Oos het die afgelope naweek ná ’n kort siekbed gesterf. Aubrey Solomon (62) was die afgelope 25 jaar bekend in die gebied as begrafnisondernemer. Hy is beskou as ’n hoeksteen van die gemeenskap wat vasbeslote was om sy mense te dien. Byna twee weke gelede het Solomon ’n ligte hartaanval beleef en is in Panorama MediClinic opgeneem. Na behandeling is hy ontslaan en het verlede week goed tuis aangesterk. Sondag het hy egter gekla van geweldige maagpyn en is in die Paarl MediClinic opgeneem. Hier het dokters vasgestel dat hy aan lewerkanker ly wat reeds versprei het. Hy is Maandag in die hospitaal oorlede. Solomon is in 1946 in die Ou Tuin in die Paarl gebore en het grootgeword in die Apartheidsjare. Hy het eerstehands hiermee in aanraking gekom, toe hy en sy familie verplig is om te verhuis van die Ou Tuin in die middedorp na Amstellhof. Nadat hy sy skoolloopbaan by Noorder-Paarl Hoërskool voltooi het, het hy los werkies gedoen in die landboubedryf, en later betrokke geraak by die vervoerbedryf. Solomon het gesien dat daar ’n leemte op die gebied van begrafnisondernemings was in Paarl-Oos, en het Aubrey Solomon Begrafnisdienste in Klein Drakensteinweg gestig. Die besigheid het vinnig van krag tot krag gegaan, en toe die oorspronklike perseel uit sy nate begin bars het, het hy verskuif na Hermitagestraat. Hy was ’n bestuurslid van die Nasionale Begrafnisondernemersvereniging in Suid-Afrika, en was van Kaapstad tot Johannesburg bekend in dié bedryf. Solomon se ou vriend, skoolhoof Brian Fortuin, het gesê dat dit ’n tragiese voorval is dat so ’n groot man nou skielik weggeneem word. “Aubrey sou vir enigiemand help. Hy het niemand ooit weggewys nie en het ’n sagte hart gehad. Hy het werklikwaar omgegee vir sy gemeenskap en het deur vrywillige werk teruggeploeg daarin.” Solomon het vyf jaar gelede afgetree om meer tyd saam met sy vrou, Charlene, en sy familie te spandeer. Alhoewel hy steeds nou en dan by sy besigheid ingeloer het, is beheer daarvan oorhandig aan sy seun Deon. Sy begrafnis vind plaas Saterdag vanaf 10:30 vir 11:00 by die Paarl Stadsaal. Vir verdere besonderhede, kontak Deon Solomon by 082-953-9919.
More
News
|