Vonke spat by verkeerskantoor
2009-01-29
NA amper ’n dekade in Engeland is ’n egpaar van Wellington heel ontnugter met hul terugkoms huis toe, na die onbillike optrede van ’n verkeersbeampte. Die Leibbrandts het in Desember teruggekeer na Suid-Afrika. Een van die eerste deure waar hulle gaan aanklop het, was by die Wellington Verkeersafdeling, om hul bestuurslisensies te vervang. Toe hulle tien jaar gelede in Engeland gearriveer het, moes hulle hul Suid-Afrikaanse lisensies inruil vir Britse bestuurderslisensies. Volgens hulle was hierdie prosedure ’n eenvoudige ruil en hulle het binne drie dae Britse lisensiekaarte ontvang. Toe hulle nou terug in Suid-Afrika dieselfde omruiling wou doen, was dit egter ’n heel ander storie. In Wellington is die nodige vorms sowel as die kaart en dokumente van die Britse lisensies ingegee. Maar ’n klerk het beweer dat hulle ’n brief van die Britse Hoë Kommissaris nodig het wat bevestig dat hulle wel in Engeland bestuurderslisensies gehad het. “Die klerk het onseker voorgekom en ons na die persoon in beheer, Leonard Rantsane, gestuur, wat dieselfde beweer het. “Ons het aan hom verduidelik dat ons voorheen albei Suid-Afrikaanse bestuurderslisensies gehad het en dat talle vriende deur hierdie proses is, sonder die brief waarvan hulle praat. “Gedurende hierdie gesprek het hy verkeerdelik na die Britse lisensie as ’n internasionale lisensie verwys en wou nie oortuig word dat die een niks met die ander te doen het nie. “Hy het ook nie juis gelyk of hy seker van sy saak was nie en rondgeblaai in boeke en oproepe gemaak. Hy wou nie na ons verduideliking luister nie en het ons aangesê om eers die briewe by die Britse ambassade in Kaapstad te gaan kry.” En sonder om verder te stry, is die Leibbrandts soos goeie wetsgehoorsame burgers na die Britse Hoë Kommissaris toe, waar hulle ’n volle R1000 moes betaal om hierdie briewe te bekom. Dit is nou buiten die koste van brandstof en hul tyd wat ook in beslag geneem is. Gewapen met die briewe waarop daar aangedring is, het hulle dieselfde middag teruggekeer na die verkeersdepartement. Toe het dinge nog meer deurmekaar geraak. “Twee ander klerke sê toe vir ons dat ons nie sulke briewe nodig het nie, omdat ons name steeds op die rekenaarstelsel sal wees. Hulle het dit met die Provinsiale Administrasie bevestig.” Nodeloos om te sê, was die Leibbrandt egpaar woedend oor die R1000 wat onnodig spandeer is, en het daarop aangedring om Rantsane te spreek sodat hulle reëlings kon tref vir die terugbetaling daarvan, sowel as die petrolkoste wat hulle aangegaan het.Dit is toe dat die vonke begin spat het. “Rantsane was baie onprofessioneel, het sy humeur verloor en het onder andere op my geskreeu, soveel so dat my vrou wat buite die kantoor gewag het, ingekom het omdat sy oortuig was hy sou my te lyf gaan. “Toe ek steeds weier om sy kantoor te verlaat, het hy die polisie gebel en uit sy kantoor gestorm. Met die polisie se aankoms het hy weer op my geskree, en vir my gedreig.” By navraag is daar ook aan die Paarl Post bevestig dat so ’n brief nie nodig is nie, as die lisensiehouer voorheen in besit was van ’n Suid-Afrikaanse bestuurslisensie. “Ek verwag om vergoed te word vir die onkostes wat ek gedwing is om aan te gaan, en dat opgetree sal word teen die rassistiese amptenaar.” * A couple who has returned to South Africa after ten years in England, has had a harrowing experience with a Wellington traffic official.
More
News
|