Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bergkroon-oord geloods

Bergkroon-oord geloods
 
2009-02-12

Johan Nel

DIE ou Hawequa-jeugterrein buite Wellington het onlangs heropen as die Bergkroon-oord nadat dit die afgelope jaar of twee ’n omvattende gedaanteverwisseling ondergaan het.

Die oord, wat bykans ’n kwarteeu gelede op ’n gedeelte van die plaas Patatskloof ontwikkel is, is in 1981 deur die FAK gebou as kultuursentrum.

Dit word nou deur ’n maatskappy sonder winsbejag bedryf en word uitsluitlik aan Christen-organisasies en -groepe beskikbaar gestel. Die twee belangrikste aandeelhouers in die maatskappy is Hanneli Rupert-Koegelenberg en die sakeman Graham Power.

Die puik fasiliteite wat sedert sy ontstaan 25 jaar gelede in die oord opgerig is, is deur die nuwe eienaars verder opgeknap en gemoderniseer.

Bergkroon beskik nou oor nuut-toegeruste konferensie-fasiliteite. Die saal in die hoofgebou beskik oor ’n verhoog, beligting en uitstekende klanktoerusting en kan tot 1000 mense akkommodeer.

Die raadsaal, wat toegerus is met lugreëling, ’n grootskerm TV en DVD-speler, kan met gemak deur groepe van tot 30 gebruik word. Die woon-eenhede in die oord is sodanig verander dat elke slaapvertrek nou oor sy eie badkamergeriewe beskik.

Daar is twee kampe: Kamp Grace bestaan uit 14 wooneenhede en kan groepe van tot 80 mense akkommodeer en Kamp Blessing verskaf hoofsaaklik akkommodasie aan jeuggroepe. Dit bestaan uit vier slaapsale wat tot 120 mense kan akkommodeer.

Die hindernisbaan op die terrein is pas aansienlik uitgebrei en die groot verskeidenheid aktiwiteite wat by Bergkroon aangebied word, wissel van rotsklim, abseil, bergfietsry en sok­ker tot swem.

Die nuwe kamp word deur die eienaars bestem­pel as die grootste en mees beskutte Christen-kampterrein in die Wes-Kaap.

Dit is nou spesiaal ingerig om voorsiening te maak vir geestelike afsondering, persoonlike ontwikkelingskursusse, spanbou-aktiwiteite, skool- en kerkkampe.

Volgens JC Heunis, Bergkroon se nuwe oordbestuurder, is die oord besig om baie vinnig in gewildheid toe te neem. Alle naweke gedurende die jaar is reeds vol bespreek en daar is reeds ’n waglys. Daar is nog weeksdae beskikbaar.

Die meeste besprekings is gemaak deur Bolandse kerkgroepe wat kursusse by Bergkroon kom aanbied. Bespreek by www. bergkroon.co.za of skakel 072-345-3840.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za