Opgradering klop aan Klapmuts se deur
2009-02-19
Sieb Sieberhagen
INWONERS van Klapmuts gaan nie meer langer in ’n varkhok bly nie. Miljoene rande se opgradering is reeds deur die Stellenbosch Munisipaliteit goedgekeur en die bouwerk en opgradering gaan eersdaags begin. Behalwe die nuwe baadjie vir Klapmuts gaan die drie private ontwikkelings binne die nuwe dorpgrense werkgeleenthede skep en Klapmuts nuwe ekonomiese aansien gee. Dit sluit die Klapmuts Hills ontwikkeling met 1577 middelinkomste eenhede, die Klomp-ontwikkeling met 1100 eenhede en die Anura ontwikkeling in. Meer as R10 miljoen gaan spandeer word om bestaande grondstrate te teer, ’n gemeenskapsentrum te bou en die sportvelde op te knap. Verder gaan 578 bekostigbare huise in die bestaande dorpsgebied van Klapmuts gebou word. Dié huise word met R50 000 plus ’n verdere R15 000 vir dienste deur die staat gesubsideer. Die subsidie is heelwat meer as die R7 500 subsidie wat in 1997 vir die oprigting van die eerste “afdak”-huise beskikbaar gestel is. Inwoners kla hulle is keelvol vir die vuil en ongeteerde strate, swak dienslewering, toepassing van bouregulasies, nat omstandighede in die wintermaande en die verskuiwing van die dorpsgrense sonder hulle medewete. Dié ontevredenheid is op die spits gedryf nadat ’n munisipale kennisgewing oor die hersonering van die plaas Bronkhorst, waar die Anura Vineyard Estate gaan verrys, inwoners ongelukkig gelaat het. Inwoners sê hulle is nie geken nie en beweer dat besluite sonder hulle medewete geneem is. Die publiek het tot Maandag kans gehad om te reageer op die voorgestelde ontwikkeling by Anura. “Daar gaan nou miljoene rande spandeer word by die Anura ontwikkeling, maar steeds bly ons in ’n varkhok. Ons beplan om ’n petisie deur die inwoners te laat teken om die ontwikkeling te stop alvorens daar nie na ons behoeftes omgesien word nie,” sê Ruth Malan, een van die ontevrede inwoners. “Dis veral in die wintermaande wanneer inwoners die swaarste kry weens die grondpaaie en waterpoele wat oral staan. Ons kla al vir drie jaar by die Munisipaliteit.” JC Anthony, raadslid vir Klapmuts, sê inwoners was deeglik bewus van wat aangaan. “Daar is drie publieke vergaderings in 2007 gehou waar mense ingelig is oor die veranderinge in Klapmuts. Die vergaderings is op 22 Februarie, 28 Maart en op 7 Augustus gehou. “Op die vergaderings het inwoners versoek dat grond by Klapmuts gevoeg moet word om groei te bewerkstellig en om ekonomiese geleenthede te skep. “Armoede en agterstand is ’n geweldige probleem in Klapmuts. Die verskuiwing van die grense sal die sosio-ekonomiese omstandighede van inwoners bevorder,” sê hy. Die verskuiwing van dorpsgrense lei daartoe dat die beplande ontwikkeling by Anura, ’n wynplaas oos van die R45-pad en suid van die Simondium/Klapmuts-pad, nou binne Klapmuts se dorpsgrense val. Die ontwikkeling gaan steeds die landelike karakter van die omgewing behou en sal bestaan uit residensiële en landbou-gedeeltes, sê Anthony. Die residensiële gedeelte sal sowat 54 kleiner erwe (tussen 800 en 1000 vierkante meter) behels, asook 100 groter erwe tussen 500 en 750 vierkante meter tussen die wingerd. Daar sal ook ’n boetiekhotel en konferensiefasiliteite met 48 kamers en 26 spa-woonstelle gebou word. Sowat 15 hektaar wingerde word behou, maar ’n toeristesentrum gesentreer om die bestaande restaurant en kaasmakery sal uitgebrei word om juweelmakery, glasblasery, pottebakkery, wewery en kunsateljees as werkskeppingsprojekte te bied. Die projek sluit bemagtiging van aandeelhouers uit die gemeenskap in (20%). Gerugte dat raadslid JC Anthony finansiële voordeel uit die beplande ontwikkeling sal trek, is deur hom ontken. “Dit is mense met persoonlike vetes wat sulke stories versprei. My professionaliteit is op die spel. Ek sal mos my agterent sien as dit waar is,” sê hy.
More
News
|