Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Op soek na Wellington se ou wamakers

Op soek na Wellington se ou wamakers
 
2009-02-26


WELLINGTON het reeds in die laat 1600’s bekend gestaan as Wamakersvallei, tog weet ons tot vandag nog nie hoe die naam ontstaan het nie.

Miskien was daar ’n wamaker onder een van die eerste Hugenote settelaars; of miskien is dit na die waboom vernoem waarvan kleiner parte vir die waens gemaak is.

Vandag is daar min tekens van dié ou bedryf. Callie Theron vertel dat sy oupa (ook Callie) destyds ’n wamaker op Wellington was.

“Oupa het in Murraystraat gewoon, en die wamakery was ook op die erf - aan die agterkant. Vandag sou sy wamakerskuur en smidswinkel min of meer op die hoek van Terrace- en Commissionerstraat gestaan het.

“Net ná die Tweede Wêreldoorlog het ’n ou sinkgebou nog oorgebly. Toe was die gebou in twee verdeel. Een kant was Danie van der Merwe, wat kruideniersware met ’n perdekar afgelewer het, se stalle. Ek kan nog onthou dat in die hoek het die smidswinkel se oond nog gestaan.”

Sy oupa was 18 jaar oud toe hy as vakleerling by J Baartman in die Paarl begin werk het. Toe hy vyf jaar later as vakman gekwalifiseer het, het hy vir die wamaker Koos van der Merwe op Wellington gaan werk.

Een van die waens wat hy gebou het, was ’n “kappenwagen” wat hy in die vroeë 1900’s vir PL Rossouw van die Bovlei gebou het.

Komponente is slegs by uitsondering van buite gekoop, soos die remme wat aangekoop is by Voigt, die bekende ingenieursfirma in die Paarl, en die seil van JW&T Conolly van Kaapstad.

Die wa se kleure was ook tradisioneel: donkergroen met rooi wiele en disselboom. Die wa sou ook tipies deur agt muile getrek gewees is.

Waens het toe in drie kategorieë geval: die oswa of trekwa wat baie swaar werk gedoen het en wat deur sestien osse getrek is, die ligter muilwa wat deur agt muile getrek is, en ’n ligte twee- of drie-ton wa wat deur vrugteboere gebruik is om vrugtemark toe te neem.

Die wamakers se waens is op treine gelaai op Wellingtonstasie en in die binneland verkoop: “Die meeste waens wat oupa gemaak het, is na die Noord-Kaap en Vrystaat.

“Hy het ’n broer gehad wat hulle vir hom verkoop het. Soms is waens ook geruil vir beeste en muile wat dan weer per trein afgekom het Kaap toe.”

In die vroeë 1900’s was daar nog ’n hele paar wamakers op die dorp. Onder die bekendes was CJ Theron in Murraystraat, Albertus Malan in Malanstraat, Isaac de Villiers, William Lowe, en ’n Vlotman wat blykbaar naby die brug in Bainstraat was. De Villiers s’n was langs dié van Malan.

Callie Theron vertel dat sy oupa die wamakerbesigheid van Van der Merwe gekoop en daarmee voortgegaan het tot ongeveer 1932. Sy pa Dawid Francois Theron was ook later in die besigheid.

“Oupa het al die jare die wamakery gehad tot met die Depressie-jare, toe motors meer geword het, en boere al hoe minder waens gekoop het. Sy oupa het toe die wamakery verander in ’n smidswinkel.”

Die wamakers se dae was getel en een vir een het hulle hul deure gesluit.

In die 1950’s was Hennie (JH) Ehlers se wamakery naby Hexberg die laaste wat oorgebly het. Die besigheid is in 1914 deur sy pa begin.

Ná die Tweede Wêreldoorlog was daar nog ’n paar boere wat nog waens gehad het.

Hy het in 1951 ’n wa vir Wellington Dairy gemaak wat volgens die melkery se instruksies, wit geverf is en nie die tradisionele groen nie.

Theron vertel dat Hennie Ehlers en sy ouers huisvriende was en dat hy as jong seun baie by die werkswinkel gekom het, en onthou veral hoe hulle wiele reggemaak het.

“As hulle die naaf insit - daar is altyd daardie puntjie wat jy moet afslaan. As die man hom daar neersit met daardie lang tang - so gloeiend warm - dan moet die ander slaan met die voorhamer.

“Hoe netjies het hulle hom gemaak - dit lyk asof hy so afgesny is. Jy kan dit omtrent nie glo nie.“

In daardie dae het baie vragmotors ook houtbakke gehad, en dié het Hennie Ehlers ook gemaak en opgesit.

Selfs die ysterknippe wat die bakke se relings aan mekaar vasgehou het, is in sy smidswinkel gemaak, vertel Theron.

“Hy het alles self gemaak, ek dink hy het net skroewe elders gekoop.”

Ehlers se ou gebou bestaan nog, en word vandag as ’n motorhawe en werkswinkel bedryf.

- Marguerite Lombard




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za