Bobaas dahlia-kweker
2009-02-26
Marguerite Lombard
EEN van Wellington se dahlia-manne het vanjaar ’n hele paar kwekers in die Wes-Kaap gewys waar Dawid die spreekwoordelike wortels begrawe het. Gavin Watson het hierdie maand al die Kaap se dahliaskoue gewen: van Delft tot in Grassy Park en Oostenberg. Die afgelope naweek het hy die laaste skou in Ravensmead ook gewen. Die enigste skou wat hy nie gewen het nie, is dié op sy tuisdorp, Wellington. Wat het dan op Wellington se skou gebeur, vra die manne? Hulle gun Donovan Daniels sy uitstekende wen en sy kroon as die dorp se dahliakampioen, maar waar was Gavin Watson dan? Vra jy vir Gavin, lag hy maar verleë. Sy Corn’s Bride was darem die beste blom op die Wellington skou:“Dit is maar hoe dit gaan, my tydsberekening was net ’n bietjie uit hierdie jaar,” vertel hy. Hy verduidelik dat dit ses maande vat van die dag wat jy die dahliabolle inlê tot die dag wat die plant blom. Dan moet jou grondvoorbereiding, kos en tydsberekening reg wees sodat die blomme op hulle beste is op die dag van die skou. “Ons het ’n kouer winter gehad, en miskien was my kosgee nie heeltemal reg nie. Toe was my plante net ’n bietjie te stadig en nie betyds reg vir die eerste skou nie.” Die eerste skou van die dahlia-seisoen was toevallig ook dié van Wellington. “Ons wat aan skoue deelneem, moet presies uitwerk op watter datum knoppe begin uitbreek. Dit moet jy alles fyn uitwerk. As jy op die regte datum blomme uitbreek, sal die plante twee nuwe spruite gee, en die blomme sal net betyds reg wees.” Dahlias bly ’n baie gewilde blomsoort. Die mense wat wéét van dahlias, sal nie hulle bolle in die winkel koop nie, maar eerder ’n koppie tee gaan drink by een van die skoumanne. Wellington se Dahlia-vereniging self voer ook dahlias in, en vermeerder dan nuwe bolle onder mekaar. Gavin vertel dat Suid-Afrikaanse kwekers ook al internasionaal naam gemaak het. Die “spinnekop” dahlia is juis deur ’n Suid-Afrikaner ontwikkel. Gavin self is besig met ‘n kruising wat hy op die oomblik “Gavinsglo” noem. Dit is ’n klein “kaktus”-blom, met ’n diep rooi kleur. Hy vertel dat sy groot wens is om later ook sy eie plante op die mark te kan sit, maar dit vat jare se teling en patentering. Die dahliablom was oorspronklik inheems aan Mexiko, en dus aard dit baie goed in ’n warm klimaat. Die grond moet net goed gedreineer wees. Gavin se pa James het hom destyds as kind geleer om dahlias te kweek: “Ek het as seun in die tuin gehelp. My pa het toe ook geskou – krisante en dahlias.” Wat is die geheim van ’n goeie kweker? “Ek is nie ’n persoon wat oordadig voedsel gee vir my plante nie. Eerder ’n bietjie kort-kort. Mense is geneig om die plant te voer dat hy uit sy nate wil spring. Dan loop jy die gevaar dat jou plant in die warm son sal brand, of dat daar nie genoeg bolle is wat onder uitloop nie. Dit gaan oor balans.” Vir beginners het hy ook raad: “Jou grondvoorbereiding is die belangrikste, dan moet jy onthou om die plante gereeld water en kos te gee, en veral te waak teen slakke en snywurms. Plant die dahlias in ’n plek wat beskut is teen die wind.” (M Lombard)
More
News
|