Kuifie se Afrikaanse wortels in die Paarl
2009-03-05
Lise Beyers
KUIFIE is vir oud en jonk wat strokiesverhaal-liefhebbers is, ’n groot genot wat hulle altyd sal bybly. Nou het ’n Paarliet gesorg dat hierdie gewilde reeks boeke finaal in Afrikaans gedruk word, deurdat sy die laaste nege verhale vanuit Frans na Afrikaans vertaal het. Sonja Barrous, ’n nooi Van Schalkwyk, is ’n gebore en getoë Paarliet wat haarself nou in Parys bevind. Nadat Sonja by Hoërskool La Rochelle gematrikuleer het, het sy eers regte gestudeer op Stellenbosch, maar vinnig besef dat dit nie vir haar beskore was nie. Sy het van kursus verander en ’n rigting gekies wat nader aan haar hart lê - tale. Sonja het immers van graad agt Frans gestudeer op skool. Uiteindelik verwerf sy ’n meestersgraad in Frans en voltooi toe ook ’n diploma in vertaalkunde. Kort hierna het die Franse regering vir haar ’n beurs toegeken om vir ’n jaar aan die Sorbonne Universiteit in Parys te studeer. Hier het sy met lof ’n voor-doktorale graad verwerf in vergelykende letterkunde. En tussendeur die studies het Sonja haar hart verloor in die stad van liefde. Hiér het sy haar man, Nicolas, ontmoet, en binnekort was sy twee dogters ryker, Emma (8) en Camille (6). Vir diegene wat ’n agterstand in die lewe het en nog nie Kuifie-verhale gelees het nie, die agtergrond: Hierdie strokiesverhale is deur die Belgiese skrywer en kunstenaar Georges Remi (beter bekend as Hergé) geskryf tussen 1929 en 1976. Kuifie is ’n jong verslaggewer wat ’n swakheid vir vlieg het. Sy werk lei hom dikwels op gevaarlike ondersoeke wat hy heldhaftig aanpak saam met sy vriende, kaptein Sardyn, professor Fosfatus, Uys en Buys, en dan natuurlik sy geliefde hondjie, Spokie. Op die oog af lyk dit of Kuifie slegs vir kinders is, is hierdie verhale bekend vir hul slim politieke temas met ’n satiriese aanslag, wat vandag nog relevant is. Dit is nou afgesien van die fantasie, misdaad en humor wat tot alle ouderdomsgroepe spreek. En hoe het dit gebeur dat die geliefde Kuifie-verhale op haar skoot beland het? “Reeds in die jare sewentig is daar begin om Kuifie te vertaal. Toe ek hoor dat Human en Rossouw weer belang stel om die res van die reeks na Afrikaans te vertaal het ek dadelik laat weet dat ek hierin sal belang stel. “Maar hulle het reeds vertalers aangestel. “So het ek maar aangegaan met my gewone vertaalwerk. Maar uit die bloute uit stuur hulle vir my die vertaalde manuskripte van Kuifie om te proeflees. “Volgens my was hierdie vertalings ouderwets en toe ek die verbeteringe aan die uitgewers terugstuur, vra hulle dadelik vir my om die res van die verhale te vertaal.” So is Sonja verantwoordelik vir onder andere Kuifie in Tibet, Kuifie en die Geheimsinnige Ster, Kuifie: Bestemming Maan, Kuifie: Verkenners op die Maan en Kuifie in Amerika. Dus kan Afrikaanssprekendes nou uiteindelik die volledige reeks van Kuifie in hul moedertaal lees. Verder werk Sonja as vertaler by ’n kommunikasie-agentskap in Parys, waar sy hoofsaaklik van Frans na Engels vertaal. Maar sy is gretig om nog vertaalwerk te doen van Frans na Afrikaans en sy hou duim vas om die geleentheid te kry om van die Asterix strokiesverhale te kan vertaal. Sonja hou steeds ’n sterk verbintenis met haar wortels. Sy kuier gereeld in die Paarl by haar ouers Reynier en Vicky van Schalkwyk. Haar dogters is heeltemal vlot in Frans sowel as Afrikaans, en hulle het selfs al vir ’n week of twee skoolgegaan by La Rochelle terwyl hulle hier vakansie gehou het. En terug in Parys probeer sy soveel moontlik kontak maak met ander Afrikaanssprekendes wat in dié stad woon. “Ons taal is direk aan ons kultuur en identiteit verbonde.” * A Paarlite living in Paris has translated nine Tin-Tin books from French into Afrikaans.
More
News
|