Bergrivierdam-projek is nou uiteindelik 'amptelik' geopen
2009-03-19
Sieb Sieberhagen
VOORVERLEDE Donderdag, terwyl die kwik raak-raak aan die 40 grade Celcius, het President Kgalema Motlanthe die hitte en bergbrande getrotseer om die Bergrivierdam-projek amptelik te open. Dié dam-projek wat R1,5 miljard gekos het, is in 2007 voltooi en die dam het die afgelope winter reeds oorgeloop. Die projek is in 2004 afgeskop en sal in 2028 ten volle betaal wees. Kaapstad sal met dié projek oor 18% meer water beskik. Pres Motlanthe het in sy toespraak dit beklemtoon dat water kosbaar is en dat dit spaarsamig gebruik moet word. “Dit beteken ook nou dat ons nie met water kan mors nie. “Dit is baie maklik om die kraan oop te draai om ’n paar ryskorreltjies in die wasbak weg te spoel,” het hy bygevoeg. “Ek is trots daarop dat ons sedert 1994 vir baie mense lopende water kon gee. Teen 2014 sal alle Suid-Afrikaners dié voorreg hê.” Lindiwe Hendricks, minister van waterwese en bosbou, het beklemtoon dat hierdie projek ’n kraan is wat vir dienslewering oopgedraai is, “ die grootste infrastruktuur-projek wat voltooi is deur die huidige regering.”
More
News
|