Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ketels vir Afrika

Ketels vir Afrika
 
2009-03-26

Marguerite Lombard

’n DAG sonder ’n koppie tee of koffie sal nooit deug nie, maar dink ’n mens ooit aan die nederige kombuisketel?

Die heel eerste elektriese ketels is reeds in 1891 in Engeland vervaardig, en die meeste is van koper gemaak.

Ben Hoogenhout woon net buite Wellington teen die hange van Groenberg, en sy besonderse stokperdjie is om antieke elektriese ketels te versamel.

Vandag het hy al 42 koperketels in sy versameling.

Hy verduidelik dat van die vroeë ketels met ’n vaste element gemaak is, en redelik swaar is. Die element vorm deel van die bodem van die ketel, en kan ook nie uitgehaal word nie.

“Dit is moeilik om uit te werk hoe hulle dan die ketels reggemaak het.”

Ben vertel dat sy belangstelling in die ou elektriese ketels reeds tydens sy studente-dae op Stellenbosch begin het.

“Ek het ’n vriend gehad met die naam Jan Bierman. Jan het ’n woonstel in Jonkershoekweg gehad, en ons het baie daar gaan kuier. Hy het so ’n ou koperketel gehad wat hy onder sy lessenaar ingeprop het.

“Op ’n dag vra ek vir hom of hy dit nie aan my wou verkoop nie. Hy het natuurlik nee gesê, en verduidelik dat dit aan sy oupa behoort, en dat hy baie sentimenteel daaroor was.

“Ek kan nie so goed onthou hoe dit gelyk het nie, maar ek vermoed dit het ’n los element gehad, want Jan het vertel dat hy parte al vervang het.”

Jare het verbygegaan en Ben het byna van sy vriend Jan Bierman se ou koperketel vergeet, totdat hy toevallig ’n soortgelyke ketel in ’n oudhedewinkel op Stilbaai raak loop.

“Dit het my onmiddellik herinner aan Jan se ou ketel, en ek koop dit net daar. Ek vra toe vir die winkeleienaar of hy nie van nog elektriese ketels weet nie.

“So kry ek ’n kontak in die Kaap, en van daar het die versameling begin uitbrei.”

Oor die jare het hy soms ketels in onwaarskynlike plekke ontdek: soos die dag wat hy sommer drie ketels in ’n ou winkel in Dieprivier vind.

Dan was daar die oudhedewinkel langs die nasionale pad buite Albertinia: daar het hy nog ’n paar gekry. Sy nuutste vonds was in ’n winkel op Groot Brak.

Familielede word ook ingespan om ketels te soek. So was een van sy dogters in ’n winkel in Johannesburg, en daar sien sy ’n besonderse ou elektriese ketel.

“Sy stuur vir my ’n foto op haar selfoon van een van die mooiste Art Deco ketels, en vra nog of ek sou belang stel!”

Wat vir hom besonders is aan die ou ketels, is dat elkeen sy eie identiteit het.

“Dit is baie interessant: die koperketels het min of meer dieselfde vorm, maar nie een is identies nie. Ek vermoed dat die ketels in daardie jare almal met die hand gemaak is.”

Die meeste ketels in sy versameling is tussen 1910 en 1920 gemaak.

Sy grootste winskoop was ’n ketel van net R30, en die duurste ketel? “Net oor die duisend rand, maar moontlik het ek ’n bietjie te veel betaal,” meen hy.

Hy koop ook nie ketels met die oog om hulle te restoureer nie, dus is al die ketels in sy versameling in ’n baie goeie toestand, en heel moontlik is van hulle nog in ’n werkende toestand. Maar toets? Nee, dankie!

“Ek sal waaragtig nie sommer probeer om een van hierdie ou koperketels aan te skakel nie.

“As daar ’n kortsluiting is, gaan jy dit definitief voel!”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za