Dood van Pen Basson
2009-03-26
Lise Beyers
’n LEGENDARIESE figuur van Wellington se kolfbeurt is verby, ’n maand voor sy agt-en-negentigste verjaarsdag. Hendrik Nicolas Basson, beter bekend as Pen, het Maandagoggend stil heengegaan by Silwerkruin Huis vir Bejaardes. Basson sal veral onthou word vir die diep spore wat hy getrap het in die sportgeledere van Wellington. As jong wingerdboer van die Paardeberg-omgewing, het Basson rugby en krieket vir Boland gespeel. Hy was sedert 1923 betrokke by die Wellington Krieketklub en het as voorsitter hiervan gedien tot kort voor sy tagtigste verjaarsdag. Selfs hierna was hy altyd byderhand om raad te gee of om te help. En op die hoë ouderdom van 80 was dit nie ’n vreemde gesig om vir Basson voor die paaltjies te sien staan nie, met kolf in die hand en sy oog soos ’n visier op die rooi leerbal. In die fleur van sy loopbaan as kolwer het hy eens 180 lopies aangeteken in een wedstryd. Hy het geskitter met beide die kolf en die bal. Weens sy betrokkenheid en toewyding aan die Wellington Krieketklub, is sy naam verewig deurdat die klub se krieketveld na hom vernoem is. Maar Basson se naam was nie slegs verbonde aan krieket nie. Hy het ook ’n passie vir rugby gehad. Sy rugbystewels het hy eers op die ouderdom van 51 opgehang en hy was vir jare voorsitter van die Wellington Rugbyklub, asook spanbestuurder, keurder en lid van die Bolandse bestuur. Basson se broerskind, Basie Basson, het gesê dat sy oom ’n legende in sy eie tyd was, asook ’n geliefde persoonlikheid van Wellington. “Hy was ’n karakter soos min en dit sal lank wees voordat iemand sy skoene sal kan vol staan.Op sy oudag kon hy steeds vir die jonger manne ore aansit, op die sportveld, sowel as sosiaal. “Almal wat vir hom geken het, sal onthou hoe onberispelik netjies oom Pen was. Hy het altyd langs die sportveld gestaan met ’n baadjie en das aan, asook sy hoed op sy kop.” Basson se begrafnisdiens vind Maandag in die NG Moederkerk op Wellington plaas. Hy word oorleef deur drie dogters (Esbé Eksteen, Annette de Vos en Petro Blommaert), asook klein- en agterkleinkinders. * The legendary cricketer Pen Basson has died.
More
News
|