Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vir 'n slang is Buks nie bang

Vir 'n slang is Buks nie bang
 
2009-03-26

Lise Beyers

BUKS, ’n woelige mopshond van Lemoenkloof, Paarl, het onlangs by die dood omgedraai, nadat hy deur ’n boomslang gepik is.

Twee weke gelede is die Volschenk-gesin van Berg-en-Dalstraat na buite geroep deur hul huishulp, Leah Swartz, wat op die oorblyfsels van ’n groot slang in die agterplaas afgekom het.

Buks en sy maatjie Junior het opgewonde om die stuk van so 40 sentimeter rondgehardloop.

By nadere ondersoek is nog ’n stuk van die slang om die draai gevind, en toe ook die kop.

Kort hierna het hul buurvrou vir hulle geroep om te kom kyk na nog ’n stuk van die slang wat sy op haar erf gevind het.

Al dié stukke saam het ’n ellelange 1,2 meter gemeet.

En Buks en Junior is al om hul eienaars se voete, net om te wys dat hulle verantwoordelik is vir die heldhaftige slagting van die slang.

Die volgende oggend het Heinrich Volschenk oudergewoonte die honde buitekant gaan groet voordat hy skool toe gegaan het.

Maar in plaas daarvan dat hy deur ’n vrolike Buks begroet word, het die toneel buitekant meer soos ’n slagveld gelyk.

“Daar was orals bloed - op die plaveisel en mure,” vertel Heinrich se ma, Jennifer.

“Buksie het in ’n bondel op die grond gelê en bloed het uit sy mond gestroom. Ons was onder die indruk dat hy sy tong gesny het of ’n tand beseer het.”

So is Buks dadelik na die veearts geneem, waar hy eers verdoof moes word om die oorsaak van die bloeding te bepaal.

“Ons het vir die dokter vertel van die stukke slang wat ons gevind het, maar op daardie stadium het ons dit geensins met Buksie se toestand verbind nie.

“Hulle het gevra dat ons die slang se oorskot vir hulle moet neem, want Buksie toon toe tekens dat hy deur ’n boomslang gepik is.”

By die Markstraat-dierehospitaal is bevestig dat die slang ’n boomslang was, en dat Buks hierdeur gepik is, vermoedelik op die punt van sy stert.

Teen hierdie tyd het dit vir die Volschenks gelyk asof hul hiperaktiewe bondeltjie dit nie gaan maak nie. Hy was erg verswak weens geweldige bloedverlies en aan ’n drup gekoppel.

“Die veearts het probeer om so gou moontlik teengif in die hande kry, maar nêrens in Kaapstad was dit beskikbaar nie. Hulle moes dit dus inderhaas van Onderstepoort in Gauteng per vliegtuig na Kaapstad laat vlieg.

Toe daar nie ’n koerier op die lughawe beskikbaar was nie, het Jennifer self in haar motor gespring en is voet-in-die-hoek na die lughawe.

Uiteindelik is die kosbare teengif veilig in die Paarl afgelewer, en Buks is ingespuit.

Stadig maar seker het die hondjie sy krag herwin en drie dae later kon hy huis toe gaan.

En die enigste teken van Buks se noue ontkoming, is die feit dat hy effens aan die maer kant is.

Alhoewel ’n boomslang se gif dodelik is, word sterftes nie dikwels aangemeld nie, want hul giftande sit agter in die bek.

Wanneer ’n slagoffer wel gepik word, kan dit baie ure neem vir die gif om in werking te tree. Die gif vertraag bloedstolling, en die slagoffer sterf weens interne bloeding.

Boomslange kom voor aan die hange van Paarlberg, en in die geval van die slang wat Buks gepik het, sou hy waarskynlik by ’n boom afgeseil het om water te soek. Hulle is redelik skraal met ’n eiervormige kop met groot oë. Sy kleur kan wissel van bruin en groen tot grys.

* A Pug has miraculously survived the bite of the dreaded boomslang.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za