Klubspelers herleef 1995 Bekerglorie op silwerdoek
2009-04-02
Jaco van Wyk
TOE die voormalige Springbok-vleuel, oud-Paarliet Chester Williams, onlangs by een van Paarl Rugbyklub se oefeninge opgedaag het, was dit nie om sy stewels af te stof vir ’n tweede rugby-asem op die Boy Louw sportterrein nie. Williams, wat destyds ’n nasionale held geword het toe hy ’n lid was van die Springbokspan wat in 1995 die Wêreldbeker Rugbytoernooi in Suid-Afrika verower het, was eerder op soek na die bloed van jong klubspelers om die Bokke se gloriedae op Hollywood se silwerdoek te herleef. Dit was hier, by die Paarlse velde, waar Williams afgekom het op die klubspelers Clive Samuels en Rudi Zandberg wat hy benodig het vir die rolprent, The Human Factor, wat tans in Suid-Afrika verfilm word. Dit is gegrond op gebeure in die lewe van oud-President Nelson Mandela, ná sy aanstelling as president van Suid-Afrika, en hoe die Springbokspan se wêreldbeker-triomf ’n geleentheid was om die mense van SA te verenig ná die afskaffing van apartheid. Die film word geregisseer deur die hardebaard-akteur Clint Eastwood. Gesoute akteurs soos Morgan Freeman en Matt Damon vertolk onderskeidelik die rolle van Nelson Mandela en Francois Pienaar (destyds die Springbok-kaptein). Die vervaardigers van die rolprent het egter na plaaslike talent, en meer spesifiek Suid-Afrikaanse klubrugbyspelers, gesoek om die rolle te vervul van die ander rugbyspelers wat in aksie was tydens die toernooi. Williams se paadjie het dus teruggelei na sy ou tuisdorp, waar hy gaan soek het na spelers wat op ’n haar net soos hul helde lyk. Uiteindelik kon Williams nie verby die voormalige Boishaaier, Samuels (23) en Zandberg, ’n oud-leerder van Hoër Landbouskool Boland, kyk nie. Dié duo is aangewys om onderskeidelik die rolle te vervul van Hennie le Roux en James Dalton. ’n Oud-Gimmie, Marguerite Wheatley, wat naam gemaak het as Doreen in die sepie, Egoli, speel die rol van Pienaar se verloofde. Volgens Samuels behels die werksure dat die akteurs elke oggend agtuur aanmeld by Nuweland, waar hulle grimeer word en hul klere ontvang vir die dag se verfilming. “Verder skiet ons omtrent heeldag, vanaf 10:00 tot 18:00, met kort breuke tussenin,” sê Samuels. “Die bewegings wat tydens die wêreldbeker uitgevoer was, word presies soos die oorspronklike voorberei. Omdat ons die aksie so realisties moontlik wil laat lyk, raak die sessies soms lekker fisies en die manne is geneig om hard in te gaan. “Dan doen ons ook vaardigheidsoefeninge,” voeg Samuels by. Hoe voel dit om skouers te skuur met Matt Damon? Volgens Samuels is Matt Damon baie vriendelik, met sy voete plat op die aarde. “Hy kom voor as net nog een van ons en sal altyd probeer om ’n geselsie aan te knoop.” Nog ’n Amerikaanse akteur wat in die fliek te siene sal wees, is die regisseur se seun, Scott Eastwood wat die rol van Joel Stransky speel. Stransky was verantwoordelik vir die skepskop wat die legendariese wedstryd beklink het. Ander Suid-Afrikaanse akteurs sluit in Louis Minnaar as Kitch Christie (oorlede afrigter van die 1995 Bok-span) en Albert Maritz as oud-Springbok, Morné du Plessis. Die oud-Springbok McNeil Hendricks sal die rol van Chester Williams vertolk.
More
News
|