Veiligheid oor Paastyd
2009-04-09
DIE Paasfees is hier en ieder en elk wil ’n bietjie ontspan en selfs weg gaan vir ’n paar dae. Maar ongelukkig skuil skelms om elke hoek en draai wat hierdie planne wil bederf. Die polisie is van plan om deurgaans ’n hoë sigbaarheid te handhaaf om misdadigers in hul streke vas te trek, en die verontagsaming van die wet sal nie geduld word nie. Maar die publiek word ook gemaan om hul kant te bring om beide tuis en op die paaie meer op hul hoede te wees. Daar word ook gevra dat mense hul oë en ore te alle tye oop moet hou vir enige verdagte gedrag in hul omgewing, en sodoende goeie buurmanskap te handhaaf. Probleemareas wat die polisie tans ondervind, is juis met diefstal van en vanuit voertuie en huisbrake. Alhoewel die polisie hul mannekrag ten volle sal gebruik tydens hierdie Paastyd, is dit nie altyd moontlik om oral te wees nie. Die volgende wenke moet ernstig opgeneem word om misdaad te voorkom. * Sluit altyd jou voertuig en hou vensters toe. Moet geen waardevolle besittings in voertuie laat nie. * Maak seker dat jou huis goed toegesluit is, en as jy met vakansie gaan, vra die bure om ’n ogie oor jou erf te hou. Stel ook die polisie hiervan in kennis. * Wees veral versigtig met die hoeveelheid kontant wat jy saamdra, en wees uiters waaksaam wanneer jy geld trek by OTM’s. * Maak seker dat jou selfoon te alle tye werkend is, en sit noodnommers daarop. Die polisie is net ’n oproep weg, indien die publiek hulp nodig het. In die Paarl kan die volgende nommers geskakel word om in direkte verbinding te tree met polisie sektorhoofde in die verskeie gebiede: * Sektor 1: Die middedorp tussen Mark- en Dorp straat, tot by die Bergrivier Boulevard, 079-894-1251. * Sektor 2: Die gebied suid van Markstraat en Auretstraat tot by die Bergrivier Boulevard en tot by De Zoete Inval, 079-894-1407. * Sektor 3: Die gebied noord van Auretstraat en Markstraat tot en met Noorder-Paarl, 082-469-0957. * Sektor 4: Die gebied oos van die Bergrivier insluitend Denneburg, Klein Parys en Dal Josafat, 082-546-5134. * Sektor 5: Die plaasgebiede tussen Dutoitskloof en Wemmershoek, 082-469-1089. * Sektor 6: Die landelike gebied vanaf Noorder-Paarl, reg om die Paarlberg tot by die N1 naby Klapmuts, 079-894-0106. * Be extra cautious this festive season to avoid becoming a victim of crime.
More
News
|