Tiny lê die tuig neer
2009-04-09
Lise Beyers
DIE Paarl het ’n welbekende sakeman, sportman en ambassadeur van die dorp verloor, nadat die legendariese Springbok-rugbyspeler Tiny Neethling (69), verlede week by sy huis stil oorlede is. Neethling het verlede jaar ’n hart-omleidingsoperasie ondergaan en sy gesondheid het sedertdien agteruitgegaan. Jacobus Burger Neethling is in 1939 gebore in Rawsonville. Hy het in die sestigerjare bekendheid verwerf as gedugte speler op die rugbyveld. Hy het 82 keer vir WP uitgedraf as voorryspeler en was tussen 1979 en 1971 kaptein van dié span. Hy het ook as Springbok uitgedraf in toetse teen die All Blacks, die Britse Leeus, Ierland, Frankryk en Skotland. Jannie Engelbrecht, gewese spanmaat van Neethling, het met lof na hom verwys as ’n “sagmoedige reus”, op en van die veld. “Tiny was die toonbeeld van hoe ’n sportman behoort op te tree. Hy was plat op die aarde, die nederigheid self. Hy was een van die vriendelikste mense wat ek geken het. Hy het almal altyd met ’n glimlag gegroet.” Engelbrecht het bygevoeg dat Neethling altyd sy werk in die skrums gedoen het. Op plaaslike vlak was Neethling ook baie betrokke by die Paarl Rugbyklub en Gholfklub, waar hy by albei met lewenslange erelidmaatskap vereer is. By die Paarl Gholfklub het hy groot insette gelewer om die klub te help vorder van ’n piepklein plaaslike klub tot die groot landgoed wat dit vandag is. Hy was beide kaptein en president van die klub. Direkteur van gholf, Sean Verdon, het gesê dat Neethling se heengaan vir die hele klub ’n baie hartseer gebeurtenis is. “Hy was ’n essensiële deel van die klub en het dit help bou tot die krag wat dit vandag is. Ons gaan hom baie mis.” Neethling se skoonseun, Mark Maingard, het gesê dat sy skoonpa deur familie en vriende onthou sal word as ’n uiters betrokke familieman wat baie erg was oor al sy kleinkinders. Hy word oorleef deur sy vrou Marina, dogter Marian Maingard, seuns Jean en Stephan, en kleinkinders Riyan, Anke, Jacques en André-Louis.
More
News
|