Polisie sak toe op Diemerskraal
2009-04-09
Lise Beyers
DIE plaas Diemerskraal, net buitekant Wellington, het verlede week behoorlik gewemel van polisiebeamptes. Maar dié keer was dit ’n heel positiewe affêre, anders as ’n misdaadtoneel. Die SAPS se Spesiale Taakmag het vir ’n week lank hiér intensief valskermspring geoefen. Vroeër vanjaar, toe Nasionale Polisie-dag op Wellington gevier is, het die polisie Diemerskraal se landingstrook gebruik. Hier het hulle perfekte omstandighede gevind vir lugoefeninge. En hierdie taakmag is juis besig om druk gereed te maak om voor te berei vir die 2010 Wêreldbeker. Hierdie keurkorps is verantwoordelik vir hoërisiko-take en beskik oor gespesialiseerde vaardighede om byvoorbeeld gyselaarsituasies te hanteer asook transito-rooftogte. Kandidate vir die taakmag moet fisies sterk wees, asook geestelik. Hulle moet die vermoë hê om stres en moeilike situasies te hanteer, en ook geen fobies hê nie. Verlede week se oefeninge het suiwer bestaan uit ’n valskermspring-opknappingskursus. Lede van die Spesiale Taakmag het soms tot tien keer per dag 9000 voet bo seespieël uit ’n vliegtuig gespring, vir die eerste 3000 voet gevryval en dan verder met ’n valskerm tot op die grond gesweef. Teen die tyd dat hul valskerms verpak is, staan die vliegtuig weer reg om vir hulle tot bo die wolke te neem. Die plaaslike gemeenskap kon ook nie hul nuuskierigheid beteuel nie, nadat hulle gehoor het hoe ’n vliegtuig heeldag in die lug dreun. Dus het talle mense by Diemerskraal besoek afgelê om die valskermspringers te aanskou. Daan Morkel, boer van Diemerskraal en self ’n entoesiastiese vlieënier, het gesê dat die ervaring wat hulle gehad het om hierdie taakmag vir ’n week op die plaas te hê, vi rhulle ’n ware voorreg was. “Dikwels word daar te maklik kritiek uitgespreek op die polisie, maar die positiewe moet ook raakgesien word. Hierdie mans, en vrou, is hoogs gespesialiseerd in wat hulle doen. “Hulle is baie positief met heerlike gesindhede. Dis was ’n baie lekker span om hier te hê.”
More
News
|