Vroue leer van skoonheid met bemagtigingskursus
2009-04-16
’n GROEP van 41 vroue neem op die oomblik deel aan ’n intensiewe skoonheidskursus van 30 weke wat op Wellington en Franschhoek aangebied word. Die kursus, wat deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans geïnisieer is en wat deel uitmaak van die Breytenbach-sentrum se gemeenskaps-ontwikkelingsprogramme, word weekliks deur Annalise Schoeman, ’n bekende Wellingtonse opvoedkundige, aangebied. Volgens Schoeman sal die groep, wanneer die kursus op 30 November vanjaar ten einde loop, goed onderlê wees in alle aspekte van skoonheidskunde. Daar word in die kursus veral klem gelê op voet-, hand- en gesigbehandeling. Die bywoningsertifikate wat aan die einde van die kursus aan elkeen toegeken word wat die kursus suksesvol voltooi, sal kursusgangers help om tuis met ’n eie salon te begin. Die kursus kan ook vir hulle die deur open na verdere opleiding en moontlike betrekkings in die wêreld van skoonheidskunde. Theo Kemp, bestuurder van die Breytenbach-sentrum, het gesê dat die Stigting se betrokkenheid gesorg het dat die kursus gratis aangebied kan word. Klasse word ook in Durbanville en Atlantis aangebied. Groot groepe vroue uit verskillende gemeenskappe het die geleentheid aangegryp om die kursus by te woon.
More
News
|