Sibis verbeter lewens met kinesiologie
2009-04-16
Lise Beyers
’n OUD-WELLINGTONNER is besig om vir talle mense ’n tweede kans op lewenskwaliteit te gee deur middel van kinesiologie. Dr Sibis Mouton, dogter van Wellington oud-Burgemeester Johan Mouton, en kranige sportvrou, het ná ’n sportbesering gedink dat haar sportloopbaan finaal verby is. Maar sy het toe die wonderwerke van kinesiologie ontdek wat vir haar terug op haar voete geplaas het. Gedragskinesiologie is ‘n nuwe metode om mense te help om top lewenskwaliteit te bereik. Spiere kan dikwels aandui wanneer stres en wanbalans in die liggaam voorkom. Dus kan ‘n opgeleide kinesioloog hierdie wanbalanse optel deur druk op verskillende drukpunte (organe) toe te pas, om hierdeur die sterkte en swakhede van liggaamsweerstand te bepaal. Sibis het in 1972 aan Hugenote Hoër gematrikuleer en was 6de op die Kaapse Merietelys. Met haar pa as rolmodel, het sy reeds op skool uitgeblink op die sportveld en het WP kleure behaal in die 800m. Sy kan onthou hoe sy as jong kind reeds saam met haar pa op die duine by Hartenbos gedraf het. Dr Johan Mouton was op sy dag ’n geesdriftige hardloper. Hy het selfs op die ouderdom van 71, op ’n snikhete Wellington-dag, die Safari-halfmarathon voltooi. Met haar studies by Stellenbosch Universiteit was Sibis die landloopkaptein en het later Springbokkleure verwerf in Moderne Vyfkamp. Sy het ’n meestersgraad behaal in Anorganiese Chemie en later ‘n doktorsgraad in die Didaktiek van Wiskunde. Sy het ook verskeie nagraadse kursusse voltooi in sport-fisiologie in Amerika. Terug in Suid-Afrika het Sibis begin skool- gee in wiskunde voordat sy as wiskundelektor aangestel is by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. En deurgaans was Mouton nog altyd druk betrokke op die sportveld. Sy het later Springbokkleure behaal in driekamp en was kaptein van die elite-Springbokspan wat in 1993 aan die Wêreld-kampioenskappe deelgeneem het in Manchester, Engeland. In 1999 wen sy die vroue-afdeling van die Wêreld Ysterman Kampioenskappe in Switserland in die veteraan-afdeling. Sy het ook twee keer die internasionale beroemde Nice Ysterman/vrou Driekampkompetisie gewen in Frankryk in die veteraan-afdeling. Dus was dit ’n groot slag vir Sibis toe sy dyspier- en heupprobleme opgedoen het in 2000. Maar dit is juis hier waar sy kennis gemaak het met kinesiologie. ’n Kinesioloog, wat die liggaam kan balanseer, het die wortel van die kwaad opgespoor en my Gluteus Maximus (boudspier) geherprogrammeer om nie my dyspiere te oorheers nie. “Ek was so beïndruk deur hierdie metode van genesing dat ek al hoe meer navorsing hieroor gedoen het. “Psigologiese wonde wat jy in jou lewe opdoen, word in jou liggaam gestoor en skep dus fisiese probleme wat tot swak gesondheid kan lei weens die blokkering van die natuurlike energievloei. “Selfs die geringste trauma wat ’n mens as kind ervaar het kan lei tot ongesonde gedragspatrone. “My belangstelling in kinesiologie is so geprikkel dat ek Amerika toe is om ’n kursus hieroor by te woon in Florida in Januarie 2002. “Dit was ’n spirituele kursus wat die kwalifikasie as ’n gedragskinesioloog ingesluit het om ander mense te help.” Met hierdie inspirasie agter haar, asook ’n hernieude lewenslus weens haar eie kinesiologiese sessie, het Sibis ZEST4LIFE begin. Hierdie naweekkursusse vir mense van alle geloofsoortuiginge en agtergronde by die pragtige Homestead Retreat in Hermanus, Voëlklip, poog om mense nuwe lewenslus te gee deur van die kinesiologiese tegnieke gebruik te maak. Die ZEST4LIFE kursus word ook elke jaar by die QUEST gesondheidsfees in Devon, Engeland, aangebied. Sibis doen ook privaatsessies met kliënte in Kaapstad. Die volgende ZEST4LIFE kursus vind plaas op die naweek van 29 Mei. Sien www.zest4life.co.za of bel 021-671-4956 of epos sibismouton@zest4life.co.za.
More
News
|