Swanger tieners se alleenstryd
2009-04-23
Devidean Moses
DIE jeug is die leiers van môre, maar as die hoë getal onbeplande tienerswangerskappe in die Drakenstein en veral die Paarl-streek in ag geneem word, lyk die toekoms vir plaaslike jeugdiges donker. Net vanaf Januarie tot Oktober 2008 was daar 338 tieners onder die ouderdom 18 jaar wat geboorte geskenk het aan ’n kind, meesal sonder die ondersteuning van ’n vaste verhouding of huwelik. Die oorgrote meerderheid was 16 jaar of ouer. Die voorkoms van tienerswangerskappe in die Drakenstein het van Januarie 2004 tot November 2008 met 8,4% toegeneem. Van al die bevallings in Paarl Hospitaal tydens 2006 was 10,6% meisies van 18 jaar of jonger. Teen 2008 was die getalle omtrent 2% laer. Die meerderheid van hierdie buite-egtelike geboortes hou verband met enkelouergesinne. Navorsing toon dat die mediaanouderdom vir eerste geslagsverkeer by skoolgaande dogters tans die ouderdom van 15,5 jaar is, volgens ’n woordvoerder van die Departement Gesondheid in Drakenstein. Volgens maatskaplike werkers is die oorsake van hierdie jeugdige swangerskappe, afgesien van ’n eie besluit om seksueel aktief te wees, veral groepsdruk, alkohol- en dwelmmisbruik, ’n behoefte aan onafhanklikheid, onverantwoordelikheid of blote onkunde. Verkragtings speel ook ’n rol en gesinsgeweld en egskeidings van ouers lei ook daartoe dat kinders verwerp voel en toenadering soek. Hierdie navorsing beklemtoon die belangrikheid van ’n stabiele ouerhuis waar ouers meer tyd saam met die kind spandeer en kommunikasie oor sake soos lewensoriëntering plaasvind. Skole onderrig lewensoriëntering as vak, maar maatskaplike werkers meen dat dit veral ouers se plig is om hul kinders leiding te gee op hierdie gebied. Baie plaaslike inwoners meen ook dat kinders op voorskoolse vlak aan seksuele voorligting blootgestel moet word, sodat die kind op ’n vroëe ouderdom sy/haar liggaam se grense kan stel. Hoewel daar dikwels beweer word dat jong meisies swanger word om kindertoelaes van die staat te ontvang, het nadere ondersoek die teendeel bewys. Jong meisies ontken dat hulle hoegenaamd met voorbedagte rade swanger raak en wys op die negatiewe gevolge vir hulself. Tieners het nie altyd genoeg finansiële bystand om die baba te onderhou nie en die jong moeder is nie emosioneel toegerus om die baba te stimuleer of te inspireer nie, want sy het self baie aanpassingsprobleme en word baie keer deur die gemeenskap verwerp. ’n Jong meisie se sorgvrye tienerlewe word deur swangerskap verkort omdat sy haar ouerlike pligte moet nakom om ’n versorger vir die baba te wees. Kerke word ook gedurig gekonfronteer met uiteenlopende sienings oor seksuele verhoudings, die huwelik, aborsies en tienerswangerskappe. Volgens ’n kenner op die gebied is daar nog baie mites en wanbegrippe oor hoe om voorbehoedmiddels te gebruik – soos kondome, inspuitings, voorbehoedpille en dies meer. Hierdie opsies sluit in noodkontrasepsie (die sogenaamde “morning after” pil), inspuitings, die orale kontraseptiewe pil, en die intra-uteriene apparaat of “loop”. Kondome word in alle gevalle aanbeveel as ’n tweede middel, wat nie net help om ongewenste swangerskap te keer nie, maar ook die voorkoms van HIV infeksie kan verminder. Alle klinieke verskaf voorbehoeding aan vroue vanaf die ouderdom van 14 jaar. Wanneer daar omgang was sonder beskerming of as ’n kondoom afglip of breek kan die noodpil gebruik word. Noodkontrasepsie moet binne 72 uur gedrink word (die pil) of ’n intra-uteriene apparaat kan binne 60 uur ingeplaas word na ’n glips. Dubbele beskerming (kontrasepsie en kondome) is nodig, volgens geneeshere, omdat albei metodes feilbaar is. Dis by alle klinieke beskikbaar en ook 24 uur van die dag by ongevalle-eenhede in die hospitaal. * Indien ’n meisie onbepland swanger word, bied die wet die opsies van pleegsorg, aanneming of aborsie. Raadpleeg jou ouers, ’n suster by jou plaaslike kliniek, ’n maatskaplike werker of lewensoriënteringsonderwyser oor die risiko’s voordat jy besluit om seksueel te verkeer. Vir hulp met swangerskappe, kontak die Departement Sosiale Dienste by 871-1682 (tol-vry 0800-220-250). Daar is ook hulp vir swanger meisies by die ACVV-takke (871-1515, Noorder-Paarl 021-872-3487, 021-872-2738, 873-2204 of 876-2670), Badisa (862-4606, 873-2795), Grace Pregnancy Crisis Centre 872-8716, Kindersorg (021-862-6182, 021-864-1383) of Valcare 021-872-2365. Meld verkragtings aan by die polisie of kontak Kinderlyn by 0800-055-555.
More
News
|