Suksesjaar vir kunste
2009-04-30
Johan Nel
DIE eerste bestaansjaar van die Drakenstein-kunsvereniging, wat op 13 Mei verlede jaar gestig is, was in alle opsigte ’n sukses, het die voorsitter, Desireé Malan, op die vereniging se eerste jaarvergadering gesê. Die vereniging het verlede jaar met slegs twaalf lede begin. Op die oomblik staan die ledetal reeds op 50. Benewens die jaarlikse ledegeld van R50 wat deur elke lid betaal is, het die vereniging die afgelope jaar ook fondse van die departement van sport en ontspanning ontvang. Daarmee kon die vereniging feitlik elke maand ’n uiters leersame praatjie of werkswinkel teen bekostigbare pryse vir sy lede aanbied. Die hoogtepunt van die vereniging se bedrywighede die afgelope jaar was volgens Malan die groot groep-uitstalling in September verlede jaar in die Breytenbach-sentrum waaraan feitlik alle lede van die vereniging deelgeneem het. Volgens die bestuur van die Breytenbach-sentrum het hierdie uitstalling alle vorige bywonings-rekords vir kuns-uitstallings by die sentrum ver oortref. Lede kon ook in November verlede jaar saam ’n besoek bring aan die Rupert-kunsgalery op Stellenbosch. Onder die tien werkswinkels en praatjies wat deur die vereniging aangebied is, was die hoogtepunte volgens die lede Domingo Fuli se demonstrasie van hoe hy houtbeelde skep, en Trevor Cleeveley se praatjies oor die gebruik van simboliek en kleur in kuns. Wallace Hulley het ook ’n baie leersame waterverf-werkswinkel aangebied en Terzia Lochner ’n werkswinkel oor die maak van piouter-produkte. Die vereniging het onlangs lid geword van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging vir die Visuele Kunste (SANAVA). Met die hulp van SANAVA gaan hulle op 15 Julie ’n uitstalling in die Breytenbach-sentrum aanbied saam met vier besoekende kunstenaars van die Republiek van China.
More
News
|