Koejawels en Dover-stofies was beste vir die koue
2009-04-30
Marguerite Lombard
VANDAG raak ons so gewoond aan die pas waarmee alles verander, dat ’n mens vergeet dat daar ’n tyd was toe mense nie krag gehad het nie, hout moes kap, water aangedra het vir drinkwater en van leiwater in vrugteboorde en groentetuine gebruik het. Martha Buxmann née Hugo is in 1933 gebore en het op ’n deel van een van Wellington se oudste plase – Hexberg - grootgeword. Sy vertel dat in dáárdie jare het die meeste kinders kaalvoet skool toe gestap. “Daar was nie geld vir skoene nie. In die winter was dit sommer baie koud. Dan kom jy by die skool dan is jou vingers sommer stokstyf van daardie skooltassie dra.” Een groot vreugde van daardie ysige wintersdae was om in die kombuis langs die Dover-stofie te sit en warm koejawels te eet. “Dan sit ons die halwe koejawels op die warm blad van die stoof. Tsjt tsjt sê die koejawel soos dit heen en weer wieg. Tog te lekker!” In April ná die druiwe-oes het Wellington se boere altyd by Eerste Tol op Bainskloof vakansie gehou. “Almal was daar: die Malans, die Cilliés, die Retiefs en Le Rouxs. ’n Hele klomp het woonhuise daar gehad. Dit was ’n groot besigheid. Dan moet jy sien hoe speel daardie klomp boere jukskei teen mekaar.” Van die oorlogsjare kan sy min onthou. “Ek was nog te jonk om te besef waaroor dit alles gegaan het. Ek onthou die dag wat oorlog verklaar is, dit was September ’39, want een van ons onderwyseresse het gehuil. “Snags op die plaas het ons baie keer op die ringmuur gesit, en as ons verby Paarlberg Kaapstad se kant toe gekyk het, kon ons die soekligte oor die stad sien. By die skool het ons ook geoefen: as ons die fluit hoor, moet jy alles stop en onder jou bank inkruip. “In die oorlogsjare was daar baie tekorte en ek onthou daar was mense naby ons wat later nie bande vir hulle motor kon kry nie. Dan kom hulle van bo die berg af op die motor se rims - jy van ver hoor hoe daardie karretjie met die grondpad afkom.” In daardie dae het kinders soveel pligte gehad, dat daar nie sprake was om ná skool by vriende te gaan kuier nie. Koeie moes elke oggend gemelk word en groenvoer kry. “Vuurhout moes gemaak word en in die middae ná skool het ons kinders dikwels gesit en fynhout maak. “In die appelkoos-seisoen het ons by die Brinks appelkose gaan droog – ses pennies vir ’n stellasie of droograk.” Uit die kombuistuin was die plaasgesin feitlik selfonderhoudend. Groente, vrugte en alles wat ingelê kon word het uit die tuin gekom. “Ons het regte boerekos geëet: borriepatat in die oond, swartbekboontjie-kerrie en dan skaapboud vir Sondag.” As kind het Martha self ’n tuintjie gehad waar sy blomme en pietersielie geplant het. Saterdae is die pietersielie gepluk om in klein bossies in die dorp verkoop te word teen ’n trippens ’n bossie. Pennies is so bymekaargemaak om Saterdagmiddae te gaan fliek: cowboyrolprente meestal, want in daardie dae het sy haar pa se groot versameling Zane Grey boeke almal gelees. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Woensdae die sogenaamde meatless day, maar op die plaas het hulle altyd genoeg vleis gehad. Wintermaande is daar vark geslag. Deur die jaar is die Colebrookes of “kolbroekies” vet gemaak vir die groot dag. Die gebruik was om die onmiddellike bure ook ’n bietjie wors en ’n ribbetjie of so te gee omdat daar nie koelkaste was om die vleis te bewaar nie. Wanneer die bure weer geslag het, het hulle vleis oorgestuur. “Die kolbroekies is ’n baie vet vark. Een vark het tot vier en ’n halwe outydse paraffienblikke – hulle het so ’n dekseltjie gehad – se vet gegee. Daardie vet is dan gebruik vir bak en braai. “Die plaas se botter en eiers is meestal winkel toe gestuur, en daarvan het Ma kruideniersware gekoop.” Soos baie kinders daardie tyd, het hulle ook akkers opgetel. “Ons het ’n trippens gekry vir ’n paraffienblik vol akkers. Pa het ook akkers op die huis se solder gestoor om deur die winter vir die varke te voer. Van speelgoed wat in ’n winkel gekoop word, was daar nie sprake nie. Plaaskinders het met akkers plaas-plaas gespeel. “Een boom het sulke bont akkers gedra en dit was ons heel grandste vrieskoeie. En kon my broers baklei oor die prys van daardie “beeste”!” In daardie dae was die plaas ’n ekosisteem waarin niks verlore gegaan het nie. Kombuis-afval is vir die hoenders gevoer, vuilkoring of “kanariesaad” vir die pluimvee, dons vir die kopkussing en kraalmis vir die wingerd. Miskien is dit veral hier waar ons oor die jare iets verloor het, en miskien is “organies” glad nie so ’n moderne konsep nie.
More
News
|