Fonteinstraters opgespoor
2009-04-30
Christine Siebrits
DIE groepie navorsers van die “Lemietprojek” op Wellington werk tans aan die geskiedenis van Fonteinstraat. Op Vrydag 17 April is ’n aantal persone genooi na Ouma Granny’s Huismuseum met die doel om meer omtrent die vroeëre geskiedenis van Fonteinstraat uit te vind. ’n Vorige eienaar van Ouma Granny’s Huis was Anna Susanna Malherbe, die weduwee van Gielie Malherbe van Lustigan, Klein Drakenstein. In 1923 het sy die huis, toe bekend as Mochudi Villa, in Fonteinstraat gekoop. Sy het nege kinders gehad en die Vrydag het sommige van haar kleinkinders en ook ’n agterkleinkind ’n nostalgiese besoek aan Ouma Granny’s Huis gebring. Die huis is later deur die Wellington Munisipaliteit gekoop en is vandag die Ouma Granny’s Huismuseum. Die dag se verrigtinge het by die Wellington Museum begin, waar ’n uitsoekgroepie leerders van Hillcrest Primêr bymekaar gekom het om leiding te kry oor hoe om ’n onderhoud te voer. Vandaar is hulle, vergesel van ’n groepie van die Lemietprojek-navorsers na die onderpunt van Fonteinstraat vanwaar hulle op beweeg het na Ouma Granny’s Huis. Op pad het hulle ’n draai gemaak by Slamet se skoenwinkel in Fonteinstraat. Hulle het later aangesluit by die groep oud-Fonteinstraters by Ouma Granny’s Huis. Elkeen van die 15 leerders is ’n Fonteinstrater toegeken met wie hulle onderhoude gevoer het. Waardevolle inligting is verkry oor die amper verlore geskiedenis van Fonteinstraat en sy eertydse huisbewoners. Die plan is om later ’n heerlike storie-aand en uitstalling by die Breytenbach-sentrum te hou waar stories van Fonteinstraat vertel sal word.
More
News
|