Politikus tree uit
2009-05-07
Johan Nel
DIE veteraan-politikus van Wellington, Pierre-Jeanne Gerber wat sedert 1994 ’n provinsiale parlementsraadslid vir die NP en later nasionale parlementslid van die ANC was, het pas besluit om vir eers uit die aktiewe politiek te tree. “Na ’n lang parlementloopbaan van 15 jaar het ek besluit om vir eers my parlementstewels op te hang. My gesin en familie het oor al die jare baie opgeoffer en ons verdien nou ’n lang sabbatsjaar saam,” het hy verlede week gesê. Gerber, wat 30 jaar gelede ’n jeugleier en later federale jeugleier van die destydse Nasionale Party geword het, het in 1994 ’n NP-lid in die provinsiale regering van die Wes-Kaap geword. Vier jaar later het hy uit die destydse Nasionale Party bedank en lid van die ANC geword. “Dit was voor die dae van die oorloopwet. Ek het bedank, by die ANC aangesluit en huis toe gegaan sonder enige vooruitsig dat ek met my politieke loopbaan sou kon voortgaan. “Kort daarna is ek egter as ANC-lid in die nasionale parlement aangewys. Dit was ook die begin van my lang verbintenis met die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor). Nou, by my uittrede, was ek die langsdienende lid van Skoor.” Volgens Gerber was sy ononderbroke lidmaatskap van Skoor plus die feit dat hy ’n klomp diskriminerende wette geskrap kon kry en vier privaat-wette deur die parlement aanvaar gekry het, van die hoogtepunte in sy loopbaan as politikus. So ook die feit dat hy tientalle kiesers en organisasies kon help om toegang tot broodnodige politieke hulp te verkry. Twee daarvan was die suksesvolle afhandeling van die heel eerste suksesvolle landbou-bemagtigingstransaksie in Suid-Afrika en sy betrokkenheid by die bou van ’n waterpypleiding wat skoon drinkwater na werkershuise op tientalle plase weerskante van die Bergrivier by Hermon en Wellington gaan bring. Hy het egter die afgelope 15 jaar as lid van Skoor en by geleentheid ook as voorsitter gesien hoe Skoor ongerymdhede in staatsbesteding vroegtydig kon uitwys, sorg dat skuldiges uit hul poste verwyder word en in die proses baie miljoene vir die land bespaar. Hy was, as politikus, telkens verstom om te sien hoe maklik ’n skynbaar onskuldige opmerking of ’n heel onskuldige daad soms tot reusagtige publisiteit in die media kon lei. Toe drie mans deur die polisie aangekeer word ná ’n wrede plaasmoord naby Ceres, het hy aan ’n koerant gesê die drie behoort na Botswana gestuur te word om daar gehang te word. Die koerante het sy opmerking landwyd uitbasuin en van sy kollegas in die ANC het hom dadelik daaroor voor stok gekry. Gerber is steeds ’n getroue ondersteuner van die ANC en sê dat die party daarin geslaag het om onder moeilike omstandighede ’n demokratiese stelsel in die land te vestig. In die maande wat voorlê is hy van plan om aan ’n moontlike boek te begin werk oor die uitdagings, die suksesse en die teleurstellings wat Skoor die afgelope 15 jaar beleef het.
More
News
|