Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Haar moederskap strek wyd

Haar moederskap strek wyd
 
2009-05-07

Liezl Dyson

SKOENE, ’n groot ‘grand’ handsak, nie ’n pophuis een nie, en ’n mooi broekpak.

Dít is op “ant” Bokkie Claasen se geskenklysie vir Moedersdag op 10 Mei.

Die 83-jarige Claasen word beskou as ’n ware steunpilaar - nie net deur haar 11 kinders, 53 kleinkinders, 29 agterkleinkinders en 17 agteragterkleinkinders nie - maar ook deur baie mense in die gemeenskap.

Claasen was vir jare ’n politikus en het op die plaaslike stadsraad gedien tot twee jaar gelede.

Sy is bekend dat sy altyd uit haar pad gaan om ander te help.

Sy sê toe sy op die raad gedien het, het dit haar geleer om aan te pas by elke mens se geaardheid.

“Ek lees mense soos ’n boek, so ek ken hulle swakpunte en hul goeie punte,” sê sy.

Claasen se dogter, Miriam Adriaanse, het in haar ma se voetspore gevolg en is nou reeds vir 20 jaar in die politiek betrokke. Sy dien tans ook in die Stadsraad vir die DA.

“Ek dink ek het my belangstelling in die politiek by my ma geërf,” glimlag sy.

Volgens haar respekteer baie mense in die stadsraad haar ma vir hoe sy te werk gegaan het.

Volgens Miriam is haar verhouding met haar ma soos met ’n suster.

“Sy is soos ’n ma en pa vir ons kinders en al wil ons graag hê sy moet nou rus, wil sy nog altyd ander help,” het Miriam vandeesweek gesê.

Volgens haar kan haar ma gekenmerk word aan haar goeie mensekennis, vergewensgesindheid en hardwerkendheid. “Sy vergewe mense baie maklik en bly nooit lank kwaad nie - sy hou van baie mense om haar.”

Miriam het gesê as een van hulle as kind stout was, het nie net een pak gekry nie, maar het hulle sommer as ’n span pak gekry.

“My ma het ons ook geleer dat ons moet werk vir wat ons wil hê. Sy was nie ’n dag by die huis nie, want sy moes elke dag vir ons werk en dis nou ons tyd om aan haar terug te gee.”

Miriam, wat self ’n moeder van vyf kinders is en ouma van twee kleinkinders, meen haar grootste geskenk vir Moedersdag sal wees as die hele familie die dag saam kan geniet.

Hulle het egter nog geen spesifieke planne vir Moedersdag nie, maar gaan wel die dag saam vier.

Miriam se man is twee jaar gelede oorlede en volgens haar sou sy nie geweet het wat sy sou gedoen het as haar ma en kinders nie daar was nie.

Claasen het gesê alhoewel sy ’n klomp kinders het, het sy goeie kinders wat “terugploeg” aan haar: “My ma het vir my geleer eer jou vader en jou moeder en jou dae sal verleng word en dit is wat ek vir my kinders geleer het.”

Van Miriam het sy geen klagtes nie en meen haar dogter doen goeie werk vir die gemeenskap en dat sy ’n standpunt kan inneem: “Toe my kinders begin werk, moes hulle almal hul koevert vir my toe bring, nie oop nie, want hul kos wat ek vir hul werk toe toegedraai het was toe nie oop nie,” skater sy van die lag.

Volgens Claasen sal sy nooit trek uit Chicago in Paarl-Oos nie.

“My moederskap strek so wyd, die mense hier is te lief vir my en ek vir hulle.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za