Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


In haar ma se voetspore

In haar ma se voetspore
 
2009-05-07

Jaco van Wyk

“AS ek na my ma kyk, kan ek net sê WOW! Want alles wat sy al in haar lewe bereik het, inspireer my om net soos sy te wees.”

Dit is die mooi woorde waarmee Marise Malherbe, belowende 14-jarige atleet van Hoër Meisieskool Paarl, haar ma, Tanya, beskryf. Die Malherbes boer op die plaas Bloemendal in Simondium, waar daar ook ’n spog-gastehuis, Paddabult, is.

Tanya Malherbe, beter bekend as Tanya Peckham vir dit wat sy in die jare tagtig op die atletiekbaan vermag het onder haar nooiensvan, plak ’n vet soen op haar dogter se wang en sê: “Daar maak jy nou net jou ma se dag. Mamma is net so trots op jou.”

Tanya (43), ’n sewe-malige Springbokatleet van Maties Atletiekklub, het onder meer beroemdheid verwerf toe sy as 18-jarige, in 1984, geval het in die 1500m wedloop op Potchefstroom - ’n wedloop wat sy net moes wen om haar Springbokkleure te kry.

Met 300m oor het Tanya opgestaan en die ander deelnemers ingehardloop om steeds ’n derde plek, ’n kortkop agter die twee voorlopers, te behaal.

Tanya se beste 800m tyd (2:02,24 op Coetzenburg) staan vandag nog as een van die 20 vinnigste tye in Suid-Afrika.

In 1985 het Tanya, as ’n junior atleet, die Boland senior 1500m rekord opgestel wat vandag nog staan en in 1989 het sy haar beste tyd in die een myl behaal (4:27,18) in Port Elizabeth.

Naas Zola Budd is Tanya se tyd die vinnigste in Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Atletiektalent

Marise is egter besig om self ’n plaaslike heldin te word, aangesien sy in haar eerste jaar by HMS reeds die tonge los het oor haar atletiekprestasies.

Marise het vanjaar (6 Februarie) tydens HJS se Uitnodigingsbyeenkoms ’n o.19 byeenkomsrekord in die 800m opgestel (2:15,10).

Marise was ook ’n lid van HMS se wisselaflosspan wat eerste gekom het tydens die Jannie Visser Uitnodigingsbyeenkoms op Coetzenburg.

Tydens die 4M interskolebyeenkoms (tussen HMS, LaRochelle, Bloemhof en Rhenish) het Marise werklik puik vertoon toe sy die trofee ingepalm het vir die beste o.14 atleet.

Sy het die meeste punte aangeteken en was ook die o.14-atleet met die beste individuele prestasies, met nuwe rekords in die 400m (60,00) en o.14-aflos (52,30). Boonop het sy ook die 800m gewen (2:19,00).

Twee jaar gelede, tydens die SA Laerskole Kampioenskappe as o.12-atleet, het Marise die 1200m gewen, maar haar liefde vir atletiek het volgens haar ma reeds op ’n baie vroeë ouderdom begin.

“Toe Marise so twee, drie jaar oud was, het sy altyd saam met my probeer draf,” sê Tanya, “al was dit net so vir 100m.

“Toe Marise so vier jaar oud was, wou sy altyd saam met die seniors hardloop waar ek afgerig het.”

Tanya is van mening dat Marise ’n baie beter atleet is as wat sy self ooit was.

“Marise het tien keer meer talent as ek. Sy het ’n beter bou as ek en ’n sterk kop op haar lyf. Boonop is sy ook baie liewer vir dié sport as wat ek ooit was,” sê Tanya. “Daar is geen plaasvervanger vir passie nie. Passie bring jou verder as talent.”

Hoewel Marise nog nie enige van haar ma se rekords gebreek het nie, sê sy dat sy beslis nog gaan probeer.

Tanya voel egter dat die enigste rede hoekom Marise nog nie by haar tye kon uitkom nie, bloot om die feit is dat sy nie in dieselfde items as haar ma deelneem nie.

“In die langtermyn sien ek vir Marise as ’n 1500m-atleet, maar dit is uit en uit haar besluit,” sê Tanya, wat geen geheim daarvan maak nie dat sy absoluut gaande is oor enige sportsoort.

“Ek en my ma oefen glad nie saam nie,” sê Marise, “en sy sit ook nooit enige druk op my nie. Maar sy sal altyd daar wees om my te ondersteun, of dit nou op die oefenveld of tydens ’n kompetisie is.

“Ek en my ma geniet dit eerder om saam dorp toe te gaan of om te gaan fliek. Ons is eintlik baie close,” voeg Marise by.

“Selfs al my vriende dink sy is baie cool,” sê Marise, terwyl haar ma haar weer beetkry en sê: “Aaaghhh my kind, gee vir ma nog ’n soen!”

“My ma ken ook nie die woord embarrassing nie,” terg Marise skaam.

“Maar dit is lekker, want my ouers is jonk van gees en my vriende voel so tuis by ons.

“Ek kyk ook op na my ma, want ek sien sy is ’n Christen wat weet hoe om haar lewe ten volle te geniet. En my ma en pa is so gelukkig.”

“Ja,” voeg Tanya by, “die Here was goed vir my en my man Gideon om ons te seën met twee sportiewe kinders.”

Marise se broer Fanie (12), wat skoolgaan by Courtrai - die skool waar Tanya self ’n groot betrokkenheid het met die atletiek - is self ’n kranige jong sportman.

Hoewel Tanya nie meer die pad aandurf vir ’n oefensessie saam met Marise nie, deel dié ma en dogter wel nog hul liefde vir netbal, want terwyl Marise verlede jaar haar Bolandkleure in netbal gekry het, stel Tanya self ook nog haar talente ten toon op die aksie-netbalbaan waar sy eerste liga speel.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za