R70 000 gesteel by skool
2009-05-14
DIE New Orleans Primêre Skool staar ’n krisis in die gesig, nadat bykans R70 000 die afgelope paar maande uit die skool se rekening verdwyn het. Dit blyk dat klein hoeveelhede geld oor ’n tydperk van ses maande per tjek onttrek is uit die skool se rekening. ’n Bankklerk het agterdogtig geraak oor hierdie onttrekkings en die aangeleentheid aan die skool gerapporteer. By nadere ondersoek is daar vasgestel dat daar wel geld onreëlmatig uit die skool se rekening verdwyn het. ’n Klag van diefstal is by die Paarl-Oos polisiestasie gelê. Hier word die saak verder ondersoek en ’n daar word verwag dat ’n arrestasie in verband hiermee binnekort sal plaasvind. Die moontlikheid dat ’n personeellid by die diefstal betrokke is, word nie uitgesluit nie. Skoolhoof Herman Adonis, het gesê dat hy tans nie kommentaar kan lewer oor die aangeleentheid nie, en dat die OBOS die diefstal ook ondersoek.
More
News
|