Paarl kry nuwe baas
2009-05-14
Lise Beyers
DIE eerste ding wat die nuwe Paarl polisie se stasiebevelvoerder gedoen het toe hy verlede week sy pos opgeneem het, was om ’n reuse-skildery van ’n Knysna loerie bokant sy lessenaar te hang. Sodoende, vertel direkteur Vincent Beaton, maak dit sy kantoor meer toeganklik vir sy mannekrag, sowel as die breë publiek. Want, vertel hy, dit is hierdie beamptes wat ’n reuse verantwoordelikheid het om die gebied vir almal te beveilig, en hulle moet gemaklik voel om enigiets met hom te bespreek. En nie net is hy die nuwe stasiebevelvoerder nie, maar ook streeksbevelvoerder, wat Wellington, Paarl-Oos, Mbekweni, Malmesbury, Riebeek-Wes en Philadelphia insluit. Beaton is geen vreemdeling in die Paarl nie. Hier was hy vir ’n geruime tyd lank adjunk area-kommissaris vir die Boland. Hierna is hy na verskeie polisiestasies in die Kaapse Skiereiland verplaas as tasiebevelvoerder, om hul ‘reg te ruk’. En bo en behalwe die feit dat hy ’n gesoute polisieman is, het hy ’n B.Juris en LLB graad deur UNISA voltooi, en hy is boonop toegelaat tot die balie as advokaat. “Maar, ek is ’n polisieman in murg en been. Natuurlik help my regsgeleerdheid vir my om die wette van die land, en hoe hulle toegepas word, soos die agterkant van my hand te ken. “Maar my prioriteit is om die gemeenskap te dien. “Die Paarl het die afgelope maande ’n reuse-probleem met inbrake en dit moet uitgeroei word. “Hierdie area is verdeel in ses sektore waarna ons omsien. Ek wil hierdie diens versterk en verdere sigbare polisiëring hiér toepas. “Maar ons kan dit nie alleen doen nie. Ons maak op die publiek staat om ons oë en ore te wees waar ons nie kan wees nie. Dus vra ek dat hulle vir ons sal ondersteun deur die verskillende sektore se maandelikse misdaad-forumvergaderings by te woon. “Hier word misdaad in die algemeen bespreek en sodoende vat die polisie, die publiek en ander rolspelers hande om probleme te bekamp. “Dit gaan ook nie net oor misdaad nie, maar algemene wetstoepassing in die gebied. “Almal kan ook bydra deur meer paraat te wees en enige ongerymdhede by ons aan te meld. Buurmanskap moet ook orals heers en ons moet mekaar help.” Beaton se ander kopseer waarvan hy ontslae wil raak, is maatskaplike probleme op plase, wat dikwels aangehits word deur alkoholmisbruik en tot misdaad lei. “Hierdie is grotendeels ’n maatskaplike probleem en ek beplan verskeie projekte om hierdie mense te help en hulle op te hef.” En al is hy ’n gesoute polisieman, is hy nie ’n geharde een nie. Al spreek die skildery in sy kantoor vanself, vertel hy van sy liefde vir kuns, houtwerk en mooi meubels. En dié deel hy met sy vrou Yolandi en twee seuns, in Durbanville. * Paarl police has a new station-commander, in the form of a very experienced policeman, who is also an advocate.
More
News
|