Rotariërs gee wiele
2009-05-21
Johan Nel
DIE Rotariërklub van Wellington het onlangs sewe rystoele vir gebruik by spreekkamers van die dorp se mediese praktisyns uitgedeel. Volgens Gerhard van der Merwe, president van die Wellingtonse klub, is hierdie skenking deel van ’n groot internasionale veldtog om so wyd moontlik rystoele beskikbaar te stel aan almal wat dit dringend nodig het. Die veldtog word deur die internasionale Rotariër-organisasie en die Amerikaanse Rystoelstigting van stapel ge- stuur. Die sewe rystoele wat verlede week op Wellington aan mediese praktyke op die dorp geskenk is, is aan die Wellingtonse Rotariërklub geskenk deur McCarthy Toyota van die Paarl. Die rystoele sal deur die geneeshere gebruik word om pasiënte wat as gevolg van beenbreuke of ander beserings moeilik beweeg, te help om in hul spreekkamers te kom, asook vir diegene wat dit tuis mag nodig hê. Die Wellingtonse Rotariërklub het, nadat hulle besluit het om ook deel te word van die internasionale rystoelveldtog, ’n behoeftebepaling in Wellington en omgewing gedoen en tot die slotsom gekom dat daar ’n groot behoefte bestaan om pasiënte met behulp van rystoele in die plaaslike geneeshere se spreekkamers te kry. Sedert die veldtog begin het, is daar in Suid-Afrika reeds 20 000 rystoele gratis deur die Rotariërs aan verskillende gemeenskappe in die land gelewer.
More
News
|