Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


'Bloedvinnig' is haar ding

'Bloedvinnig' is haar ding
 
2009-05-28

Sieb Sieberhagen

TOE Pa Willem vir Stefanie Hugo gesê het om die stuur te vat, het sy glad nie twee keer gedink nie.

Dit is maar eenmaal in haar bloed om grondpaaie kaf te draf. Al kompeteer sy teen mans, staan sy glad nie terug nie.

Terwyl die kragtige enjin brul en die motor, soos sy sê, bloedvinnig deur die draaie gly, droom sy steeds om eendag ’n professionele tydwedrenjaer te word. Geen wonder dat Matti Latvalla een van haar helde is nie.

Vandag is sy maar net een van ’n paar vrouebestuurders wat die tydwedrenarena betree het en het reeds meer as tien wedrenne, wat streeks- en nasionale wedrenne insluit, agter die blad.

Die ander vrouejaers is die Rally Chicks, Lola en Megan Verlaque.

Stefanie is eintlik ’n Windhoeker wat op Stellenbosch kom studeer het en is nou ’n Paarlse inwoner. waar sy werk as grafiese ontwerper vir ’n Namibiese maatskappy.

In dié kort tydjie agter die stuur van ’n Toyota RSi (Suid-Afrika) en ’n Subaru WRX (Namibië), het Stefanie al geraak-raak aan die hoogste louere.

Sy ry in Suid-Afrika in die A6-klas met ’n N2-klas motor (Toyota) en in Namibië in die S4-klas.

Dit alles het op 15-jarige ouderdom begin toe sy vir haar pa begin navigeer het. Op 21 het sy haar eerste tydrenmotor as geskenk gekry. Nou sit haar pa in die passasiers-sitplek en maak die sommetjies.

“Dié Subaru WRX is omskep in ’n tydrenmotor en sedertdien het ek in Namibië al aan verskeie wedrenne deelgeneem,” sê sy.

“En daar was al benoude oomblikke. Die eerste klomp wedrenne was ’n leerskool en ek het al ’n paar keer die motor gerol. Dit was nogal lekker,” vertel sy met ’n groot glimlag.

En sukses in die sport?

“Dit was ampertjies of ek kon al eerste klaarmaak. In Namibië, waar ek in die S4-klas met die Subaru jaag, was ek in die eerste plek, maar toe kry ons elektroniese probleme.

“En onlangs tydens die Nasionale Toyota Dealer-wedren in die Overberg, was ek derde in my klas toe die Toyota RSi se ewenaar ingee,” vertel sy.

“Dit is baie belangrik om te konsentreer wanneer jy bestuur. Jy moet ’n gevoel aanleer vir die pad en wanneer jy teen snelhede van tot so veel as 180 km/h op ’n grondpad ry, gebeur dinge nogal vinnig.

“Maar met die tyd raak dit makliker. Dit is asof alles stadiger raak. Maar baie keer is die omstandighede anders. Soos onlangs in Ceres toe die paaie erg glad was. Ons het lekker in die modder gespeel. Dit was groot sports.”

Stefanie vertel dat sy baie dankbaar is dat haar pa haar navigator is.

“Hy gee my selfvertroue en sal my altyd prys vir iets wat ek gedoen het. Al weet ek ons het die hoekpaal naelskraap gemis, sal hy steeds sê dat ek goed gedoen het. Hy verloor nooit sy humeur nie. Ek het baie by hom en Berto Mostert, ’n voormalige jaer, geleer. En natuurlik is my pa my groot borg,” sê sy.

Borgskappe is baie skaars en dit is ’n baie duur sport, vertel sy. Gelukkig is my pa in Windhoek om met die Subaru te help terwyl John en Michael Ramshaw in Durbanville die Toyota voorberei.

En teenkanting van die manlike geslag?

“Nee wat. Ek word goed aanvaar. Ek loop die oulikste en dierbaarste mense raak tydens streeks-wedrenne.

“Ek het al wel opmerkings gekry dat manlike jaers sê dat hulle sal ophou jaag wanneer ’n vrou hulle wen, maar ek vat dit maar met ’n knippie sout. Ek waardeer dit ook wanneer vroue na my toe kom en waardering uitspreek vir die sport wat ek beoefen.

“Al beland jy somtyds op jou dak, ons uitgangspunt is steeds om dit te geniet en te entertain.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za