Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Van vis tot papegaai

Van vis tot papegaai
 
2009-05-28

Marguerite Lombard

’n WINKEL vol troeteldiere is nie ’n plek waar ’n ouer sy kind heen neem ’n dag of wat voor ’n verjaarsdag nie.

Hier tussen Gerhardus Koorts se kapokkies, hamsters en budgies op Wellington sal ’n kind nie sonder iets wil huis toe gaan nie.

“Daar is altyd ’n aanvraag na ’n klein troeteldiertjie. ’n Ouer kom dikwels hier, dan soek hulle iets vir ’n kind wat verjaar.

“Die grootste fout wat mense dan kan maak, is om nie hulle huiswerk te doen nie. ’n Dier het elke dag jou aandag nodig.

“Jy moet vir jouself afvra: kan jy die dier versorg, en sal jy ná nog ’n paar maande die dier nog wil versorg.”

Hy vertel dat net voor ’n vakansie besef mense skielik hulle kry nie iemand om na die hamster of konyn om te sien nie, en dan wil hulle dit terugbring winkel toe.

Ná die skoolvakansie soek hulle weer ’n nuwe troeteldier by die winkel.

Belangstelling in troeteldiere gaan ook deur fases. ’n Maat by die skool het ’n hamster gekry, nou wil al sy maatjies ook ene hê.

“Soms soek mense katjies, honde of varkies, maar dan kan ons hulle na ander telers verwys. Rotte en muise hou ons ook glad nie aan nie.”

Gerhardus is al 20 jaar in die troeteldierbesigheid, en vandag kom mense so ver as Worcester en Porterville om by sy winkel te koop en ook om raad te kom vra – veral oor die versorging van voëlsoorte.

Hy self teel ook met African Grey papegaaie. Hierdie grys papegaaie kom van Wes- en Sentraal-Afrika, is baie intelligent en leer maklik om te praat.

“African Greys is nie altyd maklik om mee te teel nie,” vertel Gerhardus.

“Hulle begin broei as hulle tussen drie en vyf jaar oud is, maar net as hulle gelukkig is met hulle maat. As jy sien hulle begin met mekaar kommunikeer, dan het jy ’n kans.

“Tog kry jy dan van die pare sal broei, ander weer glad nie. Dan probeer jy maar die mannetjies weer omruil, of die broei-paar na ’n ander hok skuif. Soms help dit.”

Al die African Greys leer om te praat, maar die mannetjies – anders as in die geval van die mens - praat die meeste en die duidelikste.

Die kleintjies word van ’n baie jong ouderdom geleer om gewond te raak aan mense, en word eintlik met die hand grootgemaak.

Wanneer hulle ’n maand oud is, word hulle van die broeipaar geskei en per hand gevoer. Gerhardus bring hulle dan sommer winkel toe, sodat hy of sy vrou Elmien hulle kan voer en oppas.

“Ons sal gewoonlik die kleintjie eers na twee maande aan die klient verkoop. Die meeste mense moet ook geleer word om die papegaai groot te maak en te versorg.”

Die African Grey kan ouer as 80 jaar word.

Dit gebeur van tyd tot tyd dat papegaaie wegraak, of wegvlieg.

“Dit is eintlik nie so ’n groot probleem nie, want die voëls raak honger en omdat hulle gewoond is dat mense hulle voer, begin hulle mense se geselskap opsoek.”

Dit is dan wanneer mense hom bel om te sê dat hulle ’n papegaai in hulle tuin gekry het.

“Dit is baie belangrik dat mense hulle voëls ring, en dan die nommer op die ringetjie onthou, of die nommer êrens bêre. Dit is die enigste manier waarop ons die voël kan identifiseer en terugbesorg aan die regte eienaar.

“As mense sê hulle het ’n papegaai of enige voël verloor, en hulle ringnommers stem ooreen, weet ons dat ons die regte eienaar het.”

Mense moet ook bewus wees dat ’n mens ook sommige voëls nie sonder permitte kan aanhou nie.

’n Mens het ’n permit nodig om enige van die Afrika-papegaaie aan te hou.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za