Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


De la Rey draai in Wellington

De la Rey draai in Wellington
 
2009-05-28

Johan Nel

DIE Wellingtonse TV-regisseur Hennie van der Merwe, se droom om die hoogtepunte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in ’n reeks dokumentêre programme vas te lê, het ’n stappie nader aan verwerkliking gekom toe hy onlangs ’n nuwe dokumentêr oor die lewe van genl De la Rey voltooi het.

Van der Merwe, wat gemoeid was by die maak van Verskroeide Aarde, die televisie-dokumentêr oor die Anglo Boere-oorlog, sê onderhandelinge om hierdie tweede program van hom op televisie uit te saai, is reeds in ’n gevorderde stadium.

Die De La Rey-program is deur dieselfde span gemaak wat gemoeid was by die vervaardiging van Verskroeide Aarde. Van der Merwe was die regisseur, Mark Degenaar die kameraman en Sanet Scheepers was verantwoordelik vir klank en redigering.

Die De la Rey-program word aangebied deur die bekende historikus prof Fransjohan Pretorius van Pretoria. Hy het ook die draaiboek geskryf.

“Tydens die vervaardiging het ons as span duisende kilometer afgelê om die verskillende plekke wat ’n belangrike rol in die lewe van genl De la Rey gespeel het, in beeld vas te lê.

“Ons was, sover ek kan vasstel, die heel eerste filmspan wat die pak klere kon afneem wat die generaal aangehad het toe hy die aand by Johannesburg doodgeskiet is. “Magersfontein en al die ander plekke waar De la Rey aan belangrike veldslae deelgeneem het, is besoek. Ons het ook ’n magdom baie skaars ou foto’s uit De la Rey se lewe opgediep wat ons in die program gebruik het.”

Van der Merwe sê daar word in die dokumentêr gekyk na die kwessie waaroor daar steeds talle vraagtekens hang - of genl De la Rey wel op die aand van sy dood op pad was om by die 1914-rebellie te gaan aansluit.

Die vervaardiger het wyd navorsing gedoen en die resultaat is ’n boeiende dokumentêr van 45 minute wat ’n volledige oorsig oor die lewe van ’n roemryke Suid-Afrikaanse krygsman bied.

Die program, wat ook uiters geskik is vir gebruik in skole, is reeds in Engels en in Afrikaans as DVD beskikbaar teen R120. Skakel 082-8944-837 of 021 982 7642.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za