Tegnieke vir raakskiet
2009-06-04
Lise Beyers
ONS jagters ken almal daai gevoel. Jy het nou net ’n koppie uitgeklim en daar onder teen die randjie staan ’n pragtige springbokram. Jou hart begin al hoe vinniger klop en jy snak na jou asem van opgewondenheid, terwyl jy aanlê om die skoot af te trek. En wanneer die skoot afgetrek word, is dit heeltemal te hoog, en die bok vat die veld. Bok-koors noem hulle dit. Dit gebeur selfs met die gesoutste van jagters. Hiervoor is daar geen maklike medisyne nie, want jy weet nie wanneer die koors gaan tref nie. Ervare jagters sal net vertel dat wanneer ’n bok bekruip word en die jagter is op die regte afstand om ’n doodskoot af te trek, dan moet hy darem die regte tegniek vir raakskiet ken. Eerstens moet die jagter in ’n gemaklike, bestendige skietposisie kom, wat hom in staat sal stel om sy teiken raak te skiet. As jy gelukkig is, sal daar ’n rots of boom-tak wees wat vir jou dooierus sal kan bied. Indien die vlakte heeltemal oop lê voor die jagter en sy prooi, kan ’n gemaklike lê-posisie ingeneem word, met die elmboë as dooierus. Hierdie twee skietposisies sorg sekerlik vir die akkuraatste skote, maar moet steeds geoefen word op die skietbaan teenoor ’n teiken, sodat jy presies weet hoe jou lyf moet lê of sit vir die beste gemaksrus. Die volgende posisie is staande, en dit is nie altyd maklik om so ’n akkurate skoot af te trek nie, veral nie as jy met ’n swaar roer skiet nie. Die kniel-posisie bied wel ’n bietjie meer akkuraatheid. So moet die jagter die situasie byna onmiddellik opsom - in watter posisie hy kan skiet as die bok in die vlakte staan. Dan is dit tyd vir die visier. Die deskundiges sê ’n skut moet leer hoe om met albei sy oë oop te korrel. As ywerige fotograaf het ek dit al self bemeester as ek deur my kamera se visier kyk, maar ek sukkel nog ’n bietjie om dit te doen met my teleskoop. Die rede wat vir hierdie oë-oop skiet gegee word, is dat dit die deurvolgaksie nadat die skoot afgetrek is, vergemaklik. Wanneer jy nou gemaklik is om deur die teleskoop te loer, moet jou fokuspunt op die kruishaar wees, of op die bopunt van ’n oop visier, nie jou teiken nie. Waar gaan jy nou die skoot plaas? My jag-vriend Klaus, sê dat dit net windgat ouens is wat kopskote skiet. En hy is seker reg, want die meeste gekweste bokke wat ek al gesien het, was kopskote wat nie doodskote was nie. As die bek van byvoorbeeld ’n Springbok afgeskiet word, sal hy die pad vat sonder om weer gesien te word, maar hy sal ook dae lank lewe voordat hy uiteindelik van honger en ontwatering vrek. Ek is geen deskundige nie, maar 99% van die tyd mik ek op die blad. Ek het wél al in my lewe ’n paar pragtige kopskote geskiet, maar dan was die bokke nie verder as 70 tree van my af nie. Die blad bly maar die betroubaarste. Nekskote is ook bliksems, en dit waag ek liewers nie. Nou moet jou asemhaling beheer word, want die geweer beweeg effens elke keer dat daar ’n bietjie lug in- of uitgeasem word. Haal ’n paar keer gewoonweg asem terwyl jy korrel, en wanneer jy oortuig is dat jy gereed is om die skoot af te trek, blaas oortollige lug uit totdat jy gemaklik is om vir ’n paar sekondes glad nie asem te haal nie. Nou kan die skoot afgetrek word. Die punt van die indeksvinger moet liggies op die sneller geplaas word, en as die tyd reg is, moet die sneller net baie effens gedruk word, totdat die skoot afgaan. Geen ander gedeelte van jou liggaam mag op hierdie stadium beweeg nie. En as die skoot reg afgetrek is, behoort die jagter dan presies in dieselfde posisie te wees as wat hy was voordat die skoot gevuur is. En met jou oog nog op die versier, behoort jy te sien dat jou teiken op die plek waar hy gestaan het dood lê. Lekker jag!
More
News
|