Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Geen vals noot vir Melinda

Geen vals noot vir Melinda
 
2009-06-04

Lise Beyers

’n PAARLIET het musiekman, Johan Stemmet, se voete onder hom uitgeslaan, toe sy as deelnemer van Noot-vir-Noot vir hom ’n sak vol Weskus-kreef gegee het.

Melinda Marais, van Noorder-Paarl, se kinders het haar twee jaar gelede ingeskryf vir hierdie gewilde musiekvasvraprogram.

Weens haar goeie oor en liefde vir musiek, het haar familie reeds ’n geruime tyd vir haar probeer oorreed om aan Noot-vir-Noot deel te neem, maar sy erken dat sy eintlik te skaam was.

Die kinders neem toe die besluit in eie hande, en toe Melinda haar oë weer uitvee, word sy in Julie 2007 opgeroep na Grand West in Kaapstad vir ’n oudisie.

“Daar was ’n menigte hoopvol kandidate, en ek was op daardie dag byna spraakloos.

“Ons is in groepies van agt opgedeel en Johan Stemmet het persoonlik die oudisies behartig.

“Hy het eers vir ons ’n bietjie gevra oor onsself, en toe ek vir hom vertel dat ek oorspronklik van sy wêreld aan die Weskus afkomstig is, vra hy dadelik vir my of ek vir hom kreef gebring het. So het ons gespot en toe begin die oudisie.

“Hy sal ’n liedjie begin sing en ophou, dan moes jy sonder huiwering oorneem. Dan speel hy ook ’n klein gedeelte van ’n liedjie en jy moet raai wat die naam daarvan is, byna net soos wat in die program gebeur.”

So is die dag verby, en Melinda het eintlik hoop opgegee dat sy weer van die Noot-vir-Noot span sou hoor. Maar tot haar verbasing is sy vier maande later in kennis gestel dat sy gekies is om deel te neem.

Eers in Oktober 2008 het sy die langpad na Johannesburg aangedurf, na die Noot-vir-Noot ateljee in Auckland Park waar die opname verfilm is met Melinda as volwaardige deelnemer.

“Ek was net effens senuweeagtig in die begin, maar toe die vrae begin rol en die musiek begin speel, was dit pure pret.”

Weereens het Stemmet vir Melinda gevra of sy vir hom kreef saamgebring het, en sy het gesê ja.

So het die program aangegaan, en Melinda was uiteindelik alleen kop-aan-kop met nog ’n deelnemer om te wen.

“Maar toe raai ek ’n antwoord verkeerd, en dit was die einde van my Noot-vir-Noot paadjie.”

Ná die opname, het sy vir Stemmet ’n koelsak vol Weskus-krewe gegee.

“Hy kon sy oë nie glo nie. Eintlik het hy so half begin bloos. Maar hy was oorstelp en het belowe dat hy vir my vir ete sal uitneem.”

Vir Melinda was dit ’n ervaring van ’n leeftyd, en sy sê dat sy enige tyd weer die verhoog sal wil inneem, net vir die wonderlike pret daarvan en die goeie vriende wat sy gemaak het.

En nou wag sy steeds vir die beloofde ete saam met Johan Stemmet.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za